Amerikaanse Meesters: Koepka gedy in reën

Brooks Koepka (Foto: Patrick Smith/GETTY IMAGES NORTH AMERICA/Getty Images via AFP)

Dit gaan baie hoë eise aan die voorste spelers stel, maar die organiseerders van die Amerikaanse Meesters-gholftoernooi is nie van plan om die toernooi die eerste keer sedert 1983 op ʼn Maandag te laat eindig nie.

Dit is hoekom hulle Saterdag besluit het dat die voorlopers 29 putjies op ʼn marathon-Sondag op die laaste dag van toernooi op Augusta moet inpas om die toernooi betyds te laat eindig.

Dit het gevolg nadat Saterdag se derde ronde in die slag gebly het toe die voorlopers op die sewende putjie was en deurdringende reën verdere spel onmoontlik gemaak het.

Die baan was reeds deurdrenk, van die setperke byna onder water en nog reën was vir later in die middag voorspel.

Goeie nuus was dat goeie weer vir Sondag voorspel word.

Die spelers sal vroeg Sondagoggend (Amerikaanse tyd) afslaan om hul derde rondes te voltooi en die vierde ronde sal skuins ná middagete begin.

Die Amerikaner Brooks Koepka (-13) was met vier houe voor die Spanjaard Jon Rahm (-9), gevolg deur die jong Amerikaanse amateur Sam Bennett (-6).

Die Amerikaners Patrick Cantlay en Collin Morikawa, Matt Fitzpatrick van Engeland en Viktor Hovland van Noorweë was almal op -5.

Die veteraan Phil Mickelson, Cameron Young, Russell Henley (almal van Amerika), Joaquin Niemann (Chili), Justin Rose van Engeland en Jason Day van Australië was almal op -4, gevolg deur die Amerikaner Scottie Scheffler, die wêreld se voorste speler, op -3.

Rahm het in die nat toestande gesukkel en op twee van die ses putjies wat hy voltooi het, houe aan baansyfer afgestaan. Koepka, wat ʼn voëltjie op die tweede putjie behaal het, het kop gehou en sy voorsprong vergroot.

Die 23-jarige Bennett, wat saam met Koepka en Rahm gespeel het en met rondes van 68 in die eerste en tweede rondes gespog het, is vol vertroue dat hy die eerste amateur in 90 jaar kan word wat die toernooi wen.

Maar maklik sal dit nie wees nie, veral nie met Koepka wat volstoom op pad na sy vyfde major is nie.

Suid-Afrika se Charl Schwartzel (+6 ná agt putjies) was tweede laaste gevolg deur Tiger Woods (54ste op +9) ná sewe putjies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.