Amerikaanse Meesters: Rahm sit Spaanse tradisie voort

Spanje se Jon Rahm vier sy oorwinning. (Foto: Patrick Smith / AFP)

Daar is baie dinge wat die afgelope paar jaar die landskap van gholf verander het, soos die omstrede LIV-reeks wat gholf kan laat skeur, maar die tradisie wat daar die afgelope 89 jaar in die Amerikaanse Meesterstoernooi heers, sal onaantasbaar bly staan.

Dit het die 28-jarige Spanjaard Jon Rahm vroeg Maandagoggend (Amerikaanse tyd) op Augusta National gewys toe hy hom by drie van sy Spaanse landgenote – Severiano Ballesteros (1980, 1983), José Maria Olazabal (1994, 1999) en Sergio Garcia (2017) – aangesluit het wat voorheen ook dié toernooi gewen het.

Rahm, wat die laaste ronde in 69 houe voltooi het, het op 276 houe (-12) geëindig. Hy het die aanslag van die Amerikaner Brooks Koepka (280, -8), wat een van die groot aantrekkingskragte in die LIV-reeks is, met minagting  afgeweer.

Die 52-jarige veteraan Phil Mickelson, nog een van die grotes in LIV-gholf, was saam met Koepka tweede nadat hy ʼn skitterende 65 houe (wat vyf voëltjies oor die laaste sewe putjies ingesluit het), aangeteken het.

Hulle is gevolg deur nog drie Amerikaners – Jordan Spieth, Patrick Reed en Russell Henley – saam vierde op 281 (-7), met die Noorweër Viktor Hovland en nog ʼn Amerikaner, Cameron Young, saam sewende op 282 (-6).

Rahm het sowat R55,4 miljoen met sy oorwinning verdien, met Mickelson en Koepka wat albei sowat R18,8 in hul sakke kon steek. Vergelyk dit met die VSA$1 500 (bykans R18 000) wat Horton Smith met sy oorwinning in die eerste Meesters in 1934 gewen het.

Rahm het ná sy sege hulde aan Ballesteros gebring.

“Ek speel gholf oor die geskiedenis van die spel en Seve Ballesteros speel ʼn groot rol in daardie geskiedenis. Dit beteken baie dat ek op die 40ste herdenking van sy tweede oorwinning in die Meesters dit ook kon vermag het,” het Rahm ná sy oorwinning volgens die webwerf van die Amerikaanse PGA-reeks gesê.

Rahm, wat vanjaar reeds drie toernooie in die Amerikaanse reeks gewen het, het met sy oorwinning weer tot die eerste plek op die gholfranglys opgeskuif.

Rahm was op die 18de putjie met vier houe voor, maar sy bofhou het tussen die bome beland, waar dit terug op die baan gespat het, in ware Ballesteros-tradisie.

Rahm het voortgegaan en baansyfer aangeteken om die titel te beklink.

Hy het sy arms in die lug gegooi, sy vuiste gebal en na bo gekyk, terwyl sy vrou, Kelley, en hul twee jong seuns, Kepa en Eneko, saam met Olazabal, een van sy groot mentors, by was om in sy vreugde te deel.

* Suid-Afrika se Charl Schwartzel het 50ste op 297 houe geëindig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.