Amerikaanse Ope: Louis blaas in voorlopers se nekke

Louis Oosthuizen. (Foto: Ezra Shaw/Getty Images/AFP)

Net een hou! Dit is wat tussen Suid-Afrika se Louis Oosthuizen (138 houe, vier onder baansyfer) en die voortou ná die halfpadmerk van vanjaar se Amerikaanse Ope-gholftoernooi gestaan het.

Die toernooi word op Torrey Pines in San Diego, Kalifornië, beslis.

Die 48-jarige Engelse veteraan Richard Bland en die Amerikaner Russell Henley (albei 137, -5) is gesamentlik voor, gevolg deur Oosthuizen en nog ʼn Amerikaner Matthew Wolff (albei  138) met die Spanjaard Jon Rahm en die Amerikaner Bubba Watson saam vyfde op 139.

Branden Grace en Christian Bezuidenhout (albei 142) bly stewig in die wedloop en is saam 13de. Dylan Frittelli en Charl Schwartzel is albei op 145 en die jong Wilco Nienaber, wat met sy rondes van 72 en 74 die afsnypunt in sy eerste VSA Ope gehaal het, is op 146.

Net nege houe het die top-58 spelers geskei wat vir die laaste twee rondes gekwalifiseer het.

Erik van Rooyen (147), Garrick Higgo (148) en Thomas Aiken (153) kon dit nie maak nie, maar so ook Zach Johnson, Matt Kuchar Justin Rose en Henrik Stenson.

Oosthuizen, wat ná die eerste ronde saam met Henley (albei 67) voor was, het in die tweede ronde op die 6de en 11de putjies houe aan baansyfer afgestaan. Dit het gelyk asof hy geluier het, maar hy het op die 14de en 18de putjies vlamgevat en voëltjies behaal om sy aanspraak te behou.

Dit terwyl Henley, wat verlede jaar op Winged Foot die naaswenner in die Ope was, op die 18de putjie ʼn hou aan baansyfer afgestaan het wat aan hom die eerste plek op die voorlopersbord sou besorg het.

Bland se sprokiesverhaal het voortgeduur nadat hy ʼn paar weke gelede sy eerste toernooi (Britse Meesters) ná 478 probeerslae in die Europese reeks gewen het. Dis is slegs sy vierde verskyning in ʼn Major nadat hy 23 jaar gelede in sy eerste een gespeel het.

Hy het die tweede ronde in 67 houe voltooi en is in die 115de posisie op die wêreldranglys, toevallig dieselfde posisie as wat die 51-jarige Phil Mickelson beklee het toe hy ʼn paar weke gelede teen alle verwagting in die Amerikaanse PGA gewen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.