Amerikaanse Ope: Oosthuizen se gulde geleentheid

Louis Oosthuizen gedurende die derde ronde van die Amerikaanse Ope in Mamaroneck, New York. (AP Photo/John Minchillo)

Net vier houe.

Dit is wat Sondagaand (Suid-Afrikaanse tyd) tussen Suid-Afrika se Louis Oosthuizen en ʼn oorwinning in die Amerikaanse Ope-gholtoernooi staan wanneer die vierde en laaste ronde op Winged Foot buite New York beslis word.

Die jong onbesonge 21-jarige Amerikaner Matthew Wolff is die voorloper op 205 nadat hy 65 houe in die derde ronde aangeteken het. Hy word gevolg deur nog ʼn Amerikaner, Bryson DeChambeau, op 207, met Oosthuizen derde op 209 nadat hy 68 houe in die derde ronde angeteken het.

Hy word gevolg deur die Japanner Hideki Matsuyama, Xander Schauffele en Harris English almal op 210 en die Noord-Ier Rory McIlroy op 211.

Christiaan Bezuidenhout (218) en Erik van Rooyen (220) het ook skaflik gevaar en as hulle hierop kan voortborduur, is ʼn groot tjekkie hul voorland.

Louis Oosthuizen gedurende die derde ronde van die Amerikaanse Ope in Mamaroneck, New York. (AP Photo/John Minchillo)

Oosthuizen het vier voëltjies (op die 4de, 11de, 14de en 17de) behaal en net twee keer, op die 10de en 16de, ʼn hou aan syfer afgestaan.

Waar Wolff en veral DeChambeau die bal sover as moontlik (en skeef) slaan, is Oosthuizen die mees bestendige. Sy spel bevat al die bestanddele van ʼn wenner. Hy slaan die bal ver en reguit en waag nie veel nie.

Dink maar terug aan sy sege in die Britse Ope in 2010 toe hy Lee Westwood met sewe houe uitgestof het. As hy sy neus eers gaan voorkry, gaan hulle hom nie maklik inhaal nie.

Wolff, daarenteen, het net 12 van die 42 skoonvelde gehaal en tog loop hy voor. DeChambeau spoor himself aan deur die bal sover as moontlik te slaan en sy spiere nog verder te bult.

As Wolff wen, sal hy die eerste groentjie in 107 jaar word wat dit regkry.

Onder normale omstandighede, met duisende toeskouers wat jou aanmoedig en die druk groter maak, weet ek nie of dit sou gebeur het nie.

Maar dinge is nog nie normaal nie en dus hoekom Wolff en DeChambeau daarmee kan wegkom.

Maar ai, sal dit nie lekker wees as ʼn glimlaggende Oosthuizen die Amerikaanse Ope-trofee (dit het nie ʼn naam nie) ontvang nie?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.