Amerikaanse Ope: Spelers teken rekordtellings op eerste dag aan

Ricky Fowler. (Foto: Andy Lyons/Getty Images/AFP)

Rekordtellings deur Ricky Fowler en Xander Schauffele en stewige vertonings deur ʼn hele paar groot kanonne was die treffendste kenmerke van Donderdag se eerste ronde van die Amerikaanse Ope-gholftoernooi in Los Angeles.

Fowler en Schauffele het skitterende spel opgedis en die eksklusiewe LA-buiteklubbaan op sy knieë gedwing met pronktellings van 62 – agt houe minder as die baansyfer.

Dit ewenaar die laagste telling nóg in ʼn major-toernooi en verbeter die rekord van 63 as die beste telling nóg in die Amerikaanse Ope.

Die vorige rekord van 62 in ʼn grote is in 2017 opgestel toe Suid-Afrika se Branden Grace dit in die derde ronde van die Britse Ope op Royal Birkdale in Southport in Engeland vermag het.

Die vorige Ope-rekord van 63 is in 1973 op Oakmond deur Johnny Miller opgestel toe hy die prestasie in die vierde en laaste ronde behaal het om die titel met een hou in te oes.

Fowler en Schauffele het die kalm weersomstandighede tot hul voordeel benut en met puik spel op die setperke die voëltjies ingeryg.

Die 34-jarige Fowler het nie minder nie as tien voëltjies aangeteken, maar ook twee brouhoue op sy telkaart gehad, terwyl die 29-jarige Schauffele ʼn foutlose dag beleef en agt voëltjies aangeteken het sonder om ʼn hou te laat val.

ʼn Baie kalm en rustige Schauffele het ná sy ronde gesê hy is tevrede met sy spel, maar dat dit net die eerste ronde is en daar nog ʼn lang pad voorlê.

“My werk is om elke dag te speel en die beste moontlike vertoning te lewer. Vandag het die baan en omstandighede my ʼn lae telling gegee, móre verloop dinge dalk anders,” het Schauffele oor sy spel gesê.

Hy het in die laaste ses major-toernooie elke keer onder die top-20 geëindig en is duidelik ʼn speler wat gedy in strawwe toestande.

Fowler was die eerste van die twee voorlopers in die klubhuis en het ná sy vertoning gesê die speeltoestande was makliker as wat voorspel is.

“Die baan was nie so moeilik opgestel soos verwag nie. Ek het die balletjie baie goed van die bowwe geslaan en my naderhoue was ook goed, wat my baie kanse vir voëltjies gegee het,” het hy gesê.

Oor sy kanse vorentoe sê Fowler sy plan is om dinge eenvoudig te probeer hou.

Die twee voorlopers geniet ʼn voorsprong van twee houe op Wyndham Clark en Dustin Johnson, wat albei tellings van 64 aangeteken het, met Rory McIlroy en Brian Harman op 65 in die gesamentlike vyfde posisie ná die eerste dag.

McIlroy word as een van die groot gunstelinge beskou om Sondag die titel agter sy naam te skryf. Hy beleef ʼn major-wendroogte van nege jaar en sal in sy noppies wees met sy spel in die eerste ronde van vanjaar se Ope.

Die Noord-Ier het ongelukkig vir hom by sy laaste putjie ʼn hou aan syfer afgestaan nadat hy sy bofhou links in die sukkelveld getrek het en twee houe nodig gehad het om die balletjie uit die lang gras te kry.

Hy wou agterna nie met die media oor sy vertoning praat nie.

Afgesien van Johnson en McIlroy bevind Bryson DeChambaeu en Scottie Scheffler hulle op 67 houe onder die toptien op die voorlopersbord en sal die twee Yanks tevrede wees dat hulle steeds stewig in die wedloop om die louere is.

Bekende sterre wat verder terug is, maar geensins uit die wedloop nie, is Jon Rahm (69), Viktor Hovland (69), Phil Mickelson (69), Sergio Garcia (70), Collin Morikawa (71), Matt Fitzpatrick (71) en Brooks Koepka (71).

Van die vier SA spelers het Thriston Lawrence en die amateur Aldrich Potgieter met 70’s die beste vertoon.

Deon Germishuys (72) en Wilco Nienaber (75) sal Vrydag beter moet speel indien hulle die afsnymerk wil oorleef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.