Amerikaanse Ope: Strooijonker Louis weer tweede

Louis Oosthuizen. (Foto: Harry How/GETTY IMAGES NORTH AMERICA/Getty Images via AFP)

Dit was hartverskeurend, maar die gholfgode het weer hul rûe op Suid-Afrika se Louis Oosthuizen gedraai nadat hy vir die sesde keer tweede geëindig het in een van gholf se Major-gholftoernooie.

Die 27-jarige Spanjaard Jon Rahm het vroeg Maandagoggend (Suid-Afrikaanse tyd) die Amerikaanse Ope op Torrey Pines in San Diego op dramatiese wyse by Oosthuizen weggeruk nadat hy lank met twee houe voor was.

Rahm is twee weke gelede ná die derde ronde van die Memorial-toernooi op die baan in kennis gestel dat hy positief vir Covid-19 getoets is nadat hy ná die derde ronde met ses houe voor was. Hy moes dadelik in isolasie gaan en het byna die Amerikaanse Ope misgeloop.

Hy het Maandagoggend die laaste ronde op Torrey Pines in 67 houe voltooi en Oosthuizen met een hou geklop nadat hy op 278 houe geëindig het.

Rahm het op die 17de en 18de putjies lang krullende sethoue ingerol en soos ʼn leeu gebrul… sy kringloop was voltooi.

Oosthuizen, wat agter Rahm gespeel het, het op die 16de putjie nog met twee houe voorgeloop, maar hy het op die 17de putjie ʼn hou aan baansyfer afgestaan nadat sy bofhou van die skoonveld af na regs ver tot onder bossies ingerol het en hy nie die bal kon speel nie.

Oosthuizen moes op die 18de putjie (syfer 5) ʼn arend aanteken om Rahm uit te daag, maar sy bofhou het net langs ʼn setperk in die ruveld verstrik geraak.

Jon Rahm. (Foto: Ezra Shaw/Getty Images/AFP)

Weer was daar min met sy bofhou verkeerd, maar sy geluk het opgedroog, terwyl Rahm met sy babaseuntjie in sy arms sy senuwees buite die klubhuis probeer kalmeer het.

Oosthuizen het wel ʼn voëltjie aangeteken, maar dit was nie genoeg nie. Hy het op 279 houe een hou agter Rahm geëindig.

Die Amerikaner Harris English (281) was derde, met Suid-Afrika se Branden Grace (283) gesamentlik sewende. Charl Schwartzel het gesamentlik 19de geëindig en Christiaan Bezuidenhout (288) het gesamentlik 31ste geëindig.

“Ek het nie gewen nie, ek het tweede geëindig,” het ʼn platgeslane Oosthuizen aan die Golf Channel probeer verduidelik.

“Dit is teleurstellend; dis frustrerend. Ek speel goed, maar dit gaan nie gebeur dat ek ʼn Major wen nie. Ek het vandag goed gespeel, maar dit was nie goed genoeg nie,” het Oosthuizen, wat darem sowat R19 miljoen tot sy bankbalans kon voeg, gesê.

Grace het met sy sewende plek sowat R5,7 miljoen verdien.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.