Amerikaanse PGA: Drie SA’ners aan die hooftafel

Louis Oosthuizen. (Foto: AP Photo/John Minchillo)

Wanneer die Suid-Afrikaanse gholfvlam hoog brand, is daar min dinge wat dié vuur kan blus.

Dit het drie Suid-Afrikaners in die tweede ronde van die Amerikaanse PGA-toernooi gewys wat op die Kiawah-eiland-baan in Suid-Carolina beslis word.

Dié baan langs die see is lank (die langste in 103 jaar) en bitter moeilik met baie sandkuile, duine en byna onspeelbare ruveld. Boonop het die wind Vrydagaand (Suid-Afrikaanse tyd) ʼn hond uit ʼn bos gewaai, maar dit het die Suid-Afrikaners soos ʼn handskoen gepas.

Waar van die groot gunstelinge soos Dustin Johnson, Justin Thomas, Sergio Garcia, Adam Scott en Marc Leishmann die kluts kwyt was voor sowat 1 200 rasende toeskouers en nie vir die laaste twee rondes kom kwalifiseer nie, het Louis Oosthuizen, Branden Grace en Christiaan Bezuidenhout gedy en by die hooftafel aangesit.

Oosthuizen (139) loop voor saam met die 50-jarige Amerikaner Phil Mickelson ná die tweede ronde met Brooks Koepka van die VSA (140) alleen in die derde plek. Grace en Bezuidenhout (albei 141) is saam met Hideki Matsuyama (Japan) vierde.

Daniel van Tonder (145), Dean Burmester (148) en Garrick Higgo (149) het ook die afsnypunt gehaal, maar Dylan Frittelli (152), Erik van Rooyen (153), George Coetzee (154), Charl Schwartzel (155) en Justin Harding (161) kon nie die valbyl vryspring nie.

Mickelson, wat aanstaande maand 51 jaar oud word, is die oudste speler sedert Sam Snead in 1966 wat ná die tweede ronde van die PGA voorloop.

Maar Mickelson, onlangs al sy bates ervaring, het nege maande laas in die toptien geëindig en was vyf jaar laas tussen die toptien in ʼn Major-toernooi ná twee rondes.

Oosthuizen het tot en met die 18de putjie voorgeloop, maar hy het ʼn hou aan baansyfer afgestaan om die voorsprong met Mickelson te deel nadat hy 71 en 68 houe aangeteken het.

Grace was ook in die pylvak en was op die 17de saam met die voorlopers, maar hy het twee houe aan syfer (17de) afgestaan en op die 18de putjie ook verbrou. Hy het nietemin tellings van 70 en 71 op sy telkaart ingevul.

Bezuidenhout, wat ʼn arend en een voëltjie in sy tweede ronde aangeteken het, het ongelukkig op die 13de verbrou en ʼn hou aan syfer ingeboet. Maar hy was baie bestendig en 70 houe in die tweede ronde by sy 71 in die eerste ronde gevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.