Amerikaanse PGA: Louis en Charl val vas by eindstreep

Louis Oosthuizen en Charl Schwartzel. (Foto: Mike Ehrmann/GETTY IMAGES NORTH AMERICA/Getty Images via AFP)

Toe Louis Oosthuizen en Charl Schwartzel 26 jaar gelede as twee peuters die eerste keer kragte in ʼn spantoernooi saamgesnoer het, is ʼn blink toekoms vir albei se gholftoekoms voorspel.

Oosthuizen het voortgegaan en die Britse Ope gewen en was tweede in die Amerikaanse Ope, Meesters en PGA-kampioenskap. Hy het reeds 14 toernooie oorsee gewen en was agt keer in Sonskynreeks-toernooie baas.

Schwartzel spog met seges in die Amerikaanse Meesters en 24 toernooie wêreldwyd.

Die afgelope vier dae op TPC Louisiana in New Orleans het hulle weer as ʼn span saamgespan in die Zurich Classic-toernooi, wat deel is van die Amerikaanse PGA-reeks.

Hulle was na die tweede en derde rondes gerieflik voor, maar die twee Aussies, Marc Leishman en Cameron Smith, het hulle op die 11de putjie van die laaste ronde ingehaal en die Suid-Afrikaners moes met die tweede plek tevrede wees.

Australië se Marc Leishman en Cameron Smith was die wenners. (Foto: Stacy Revere/GETTY IMAGES NORTH AMERICA/Getty Images via AFP)

Albei spanne het op 20 houe onder die baansyfer geëindig, maar Leishman-hulle het op die eerste uitspeelputjie seker van hul oorwinning gemaak nadat Oosthuizen sy bal in die water geslaan en Smith ʼn sethou van ses voet ingerol het.

Die Amerikaners Peter Uihlein en Richy Werenski (-19) was derde, gevolg deur Billy Horschel en Sam Burns, Keegan Bradley en Brendan Steele en Keith Mitchell en Brandt Snedeker, wat almal op ‑18 geëindig het.

Dit was hartverskeurend vir die twee Suid-Afrikaners veral ná ʼn goue Sondag vir Suid-Afrikaanse gholf toe die jong Garrick Higgo die Gran Canaria-toernooi in Spanje gewen het en Brandon Stone eerste in die Limpopo-kampioenskap in die Waterberge was.

Gelukkig is Oosthuizen en Schwartzel se bankrekenings met ʼn stewige R6,27 miljoen elk aangevul.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kiepie ·

Die Amerikaners Peter Uihlein en Richy Werenski (-19) was derde, nie tweede nie (3de laaste paragraaf). Louis en Charl was tweede.
Ai, ons gholfers het maar net nie die vermoeë om Sondag middag oor die laaste 9 puitjies oor die wenstreep te kom nie. Sien maar hoeveel 2de-plekke hierdie twee en andere saam met hulle behaal het.

Megan Swart ·

Dagsê Kiepie
Ons vra om verskoning vir die oorsig. Hulle was inderdaad derde. Die artikel is gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.