Amerikaanse PGA: Louis-hulle klou vas soos nete

Argieffoto van Branden Grace (Foto: Sam Greenwood/Getty Images/AFP)

Die tafel is gedek vir een van Suid-Afrika se Louis Oosthuizen, Branden Grace of Christaan Bezuidenhout om as vanjaar se Amerikaanse PGA-gholfkampioen gekroon te word.

Die 50-jarige Amerikaner Phil Mickelson slaan Sondagaand (Suid-Afrikaanse tyd) in die laaste ronde af as die alleen-voorloper op die Kiawah-eilandbaan in Suid-Carolina op 209 (sewe houe onder die baansyfer), met ʼn voorsprong van net een hou bo sy landgenoot Brooks Koepka (210, -6).

Hulle word in die derde plek gevolg deur Oosthuizen (211, -5), nog ʼn Amerikaner Kevin Streelman (212, -4) en dan Grace en Bezuidenhout (albei 213, -3) saam vyfde.

Wat ʼn rol kan speel, is dat Mickelson en Koepka saam in die laaste ronde speel, Oosthuizen en Streelman slaan net voor hulle af met Grace en Bezuidenhout wat reeds op die tweede putjie sal wees.

Na verwagting sal die wind in die laaste ronde weer langs die kus opsteek en dit kan die deur vir een van die Suid-Afrikaners oopmaak om op die lang en moeilike baan vol hindernisse (sandkuile, duine en dik ruveld) hul neuse voor te kry.

In Saterdag se derde ronde het Mickelson op ʼn byna windstil dag meesterlik begin om met vyf houe ná agt putjies voor te loop nadat hy en Oosthuizen saam voor was. Maar op die 12de en 13de putjies het hy met twee wilde bofhoue byna sy voorsprong weggegooi.

Oosthuizen, wat saam met hom gespeel het, het gespanne gelyk en het swak begin toe hy reeds op die eerste putjie ʼn hou aan baansyfer afgestaan het. Hy het homself op die agtste putjie reggeruk en ʼn voëltjie behaal asook op die 11de en 12de putjies, maar op die 13de en 17de putjies weer houe aan syfer afgestaan om 72 houe op sy telkaart in te vul.

Grace (72) het vier voëltjies in sy derde rondte aangeteken, maar ook op vyf putjies verbrou, terwyl Bezuidenhout (72) twee voëltjies behaal het, maar op drie putjies houe aan syfer afgestaan het.

Om op hierdie vlak te speel, moet jy baie sterk in jou kop wees, heeltemal kan afskakel veral omdat daar meer as 10 000 rasende Amerikaanse toeskouers die eerste keer in byna ʼn jaar toegelaat word om die spelers elke dag in aksie te sien.

Mickelson het dit tot dusver reggekry, maar die wortel om die oudste speler sedert 1968 te word toe Julius Boros die toernooi op die ouderdom van 48 gewen het, sal die hele tyd voor hom uitgehang word.

Oosthuizen-hulle dra geen bagasie nie en dalk, net dalk, kan Suid-Afrika nog ʼn Major-wenner oplewer.

* Van die ander Suid-Afrikaners is Daniel van Tonder (219) saam 38ste, met Dean Burmester (222) en die jong Garrick Higgo (227) verder agter. Onthou gerus dat dit die jong Higgo se eerste Major is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.