Amerikaanse PGA-reeks: Het Brendan senuwees van staal?

Die Amerikaner Brendan Steele slaan af by die Waialae-gholfklub in Hawaii. (Foto: Cliff Hawkins/Getty Images/AFP)

Die Amerikaanse gholfspeler Brendan Steele kry sekerlik nog nagmerries nadat hy verlede jaar die Sony-ope in Honolulu, Hawaii, op ʼn skinkbord weggegee het.

Hy was op die 15de putjie van die laaste ronde gerieflik voor, maar die senuwees het toe begin knaag. Hy het oor die laaste drie putjies liederlik kleigetrap om ʼn uitspeelstryd met Cameron Smith af te dwing en nodeloos om te sê het Smith met die titel weggestap.

Steele het Saterdag in die derde ronde van vanjaar se toernooi al die spinnerakke afgestof en 61 houe, sy beste telling nog in die Amerikaanse PGA-reeks, aangeteken om met twee houe voor te loop op 192 – 18 houe minder as die baansyfer.

Hy het nege voëltjies aangeteken en spog tot dusver met 22 voëltjies oor 54 putjies nadat hy tellings van 65 en 66 in die eerste twee rondes aangeteken het.

Dit het oornag gereën en die wind het gewaai, wat veronderstel was om dié prentjiemooi baan by die Waialae-buiteklub byt te gee.

Dit kon Steele-hulle egter nie keer nie, want die gemiddelde telling was ʼn ongelooflike 66,7 houe met tien spelers wat tellings van 64 houe of beter aangeteken het.

Kevin Na, wat ook 61 houe aangeteken het, is twee houe agter Steele op 194, saam met die jong Chileen Joaquin Niemann.

Na was op koers ná ʼn magiese ronde van 59 toe hy op die 17de putjie ʼn sethou van 10 voet vir ʼn arend benodig het. Maar dit was hom nie beskore nie en hy moes met 61 houe tevrede wees.

Die veteraan Stewart Cink het ʼn voëltjie op die 18de putjie aangeteken en is vierde saam met Charley Hoffman (64), Peter Malnati (64), Chris Kirk (65) en Russell Henley (65).

Swaar reën word vir Sondag se laaste ronde voorspel en die spelers sal twee uur vroeër afslaan om dit vry te spring.

* Nie een van die drie Suid-Afrikaners, Erik van Rooyen (137), MJ Daffue (140) en Branden Grace (144), kon die afsnypunt vryspring nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.