Amerikaanse PGA-reeks: Moeë Westwood betaal die prys

England se Lee Westwood. (Foto: AP/Kamran Jebreili)

Wanneer jy die dag 47 jaar oud is, staan daar niks in jou pad om gholftoernooie te wen nie, maar dan luister jy ook maar na jou liggaam.

Dit het die Engelsman Lee Westwood besef toe hy nie die afsnypunt van die Honda Classic-toernooi in die Amerikaanse PGA-reeks in Florida kon haal nie.

Westwood was die afgelope twee weke twee keer tweede, eers agter Bryson DeChambeau in die Arnold Palmer-uitnodigingstoernooi en toe agter Justin Thomas in die Spelerskampioenskap.

Hy het in byna elke toernooi gespeel en ook eerste geëindig in die Europese reeks se Wedloop na Dubai.

Maar nadat Westwood 70 houe in die eerste ronde van die Honda Classic behaal het, het hy dit met 78 houe in die tweede ronde opgevolg en betaal nou die prys van ʼn moeë liggaam wat rus nodig het.

Boonop het Westwood nog ander verpligtinge ingepas, soos om saam met sy seun, Sam, vroeër in die week op Augusta te speel ter voorbereiding vir aanstaande maand se Meesters.

Die onbesonge Amerikaner Aaron Wise is drie houe (12 onder die baansyfer) voor sy landgenoot Brandon Hagy en die Australiër Matt Jones (albei op 131) ná die eerste twee rondes.

Wise, 24, se totaal van 128 is die laagste telling nog oor 36 putjies sedert die toernooi sowat 15 jaar gelede na Florida geskuif het.

Wise het tellings van 64 en 64 aangeteken, wat ook sy laagte telling oor 36 putjies is.

Sam Ryder (132) is vierde, gevolg deur vier spelers, die Amerikaners Denny McArthy en Scott Harrington, Shane Lowrie van Ierland en Russel Henley van Australië, almal op 133.

Van die Suid-Afrikaners is Charl Schwartzel (13) in die 42ste posisie ná rondes van 70 en 69, gevolg deur Erik van Rooyen (140) in die 53ste plek.

Maar Dylan Frittelli (144) kon nie die kwalifiseer nie.

* In die Europese reeks is die Australiër Scott Hend en die Fin Kalle Samooja (albei 131) saam voor ná die eerste twee rondes van die Kenia-ope wat by die prentjiemooie Karen-buiteklub in Nairobi beslis word.

Suid-Afrika se Dean Burmester is derde op 132 met Justin Harding (133), Garrick Higgo (135) en Wilco Nienaber (136) wat in Hendl-hulle se nekke blaas.

Jayden Schaper, Justin Walters en George Coetzee (al drie op 138) is ook stewig geplaas in die gesamentlike 37ste posisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.