Amerikaanse PGA-reeks: Plaaslik baie lekker vir Homa

Max Homa (Foto: Form Golfer/Twitter)

Daar is sekerlik min dinge lekkerder vir ʼn gholfspeler as om tuis ʼn belangrike toernooi te wen.

Hy is dan op sy gemak, slaap in sy eie bed, eet sy eie kos en speel voor sy tuisskare.

Dit is straks een van die redes waarom Max Homa in 2021 suksesvol in die Genesis-uitnodigingstoernooi was wat by die Riviera-buiteklub in die suide van Kalifornië beslis is.

Nou is hy dalk op pad na sy tweede sege in sy tuisstad in dié toernooi in die Amerikaanse PGA-reeks.

Nadat hy Vrydag drie voëltjies oor die laaste nege putjies behaal het om 68 houe (-3) op sy telkaart in te vul, is hy met een hou (132, -10) voor die Spanjaard Jon Rahm, Keith Mitchell en Lee Hodges (wat nog op die baan was toe swak lig ingetree het) in vanjaar se Genesis-uitnodigingstoernooi. Hulle is almal nege houe onder die baansyfer.

Die Amerikaner Collin Morikawa (134, -8) is vyfde met Rory McIlroy van Noord-Ierland op 136 (-6) en die Amerikaner Scottie Scheffler op 138 (-4).

Maar terwyl Homa in die kollig was, bly Tiger Woods ook in die nuus oor ʼn poets wat hy Justin Thomas in die eerste ronde gebak het.

Woods het reeds om verskoning gevra vir sy onsmaaklike gedrag toe hy Donderdag ʼn tampon stilweg in Thomas se hand probeer druk het nadat hy sy bofhou sowat 10 m verder as dié van Thomas in die eerste ronde geslaan het.

Ongelukkig is Woods op kamera betrap en het dit geboemerang.

Waar Woods in die eerste ronde soos ʼn sneltrein met drie voëltjies geëindig het, het hy Vrydag drie houe aan baansyfer oor die laaste drie putjies afgestaan om op 74 houe te eindig.

Hy (143, +1) behoort net-net die afsnypunt te haal, hoewel ʼn paar spelers nog hul rondes moet voltooi.

Suid-Afrika se Christiaan Bezuidenhout (143, +1) behoort ook verder te speel, maar Dylan Frittelli (+2) is met die rug teen die muur, hoewel hy nog sy ronde moet voltooi.

* In die plaaslike Sonskynreeks se SDC-Ope wat by die Zebula-landgoed in Bela Bela beslis word, het JJ Senekal sy voorsprong behou nadat hy 67 houe in die tweede ronde aangeteken het.

Senekal is op 129, 15 houe onder baansyfer met sy landgenoot Martin Vorster, ná sy 69 houe, vier houe agter op 133 (-11). Hulle word gevolg deur Casey Jarvis, Alfie Plant (Engeland), Combrinck Smit, Estiaan Conradie en Victor Pastor (Spanje) wat almal op 134 (-10) is.

Senekal was met twee houe voor ná Donderdag se eerste ronde nadat hy 62 houe aangeteken het. Volgens die Sonskynreeks se webwerf het hy gister sy visier op agt houe onder baansyfer gestel.

* By Saoedi-Arabië se Royal Greens-klub is Indië se Aditi Ashok met twee houe (131, -13) voor die Nieu-Seelander Lydia Ko (eerste op die ranglys) en Lilia Vu (Amerika) by die halfpadmerk, wat albei op 133 houe geëindig het.

Ashok, wat slegs 143ste op die wêreldranglys is, het vyf voëltjies oor die eerste nege putjies aangeteken.

Suid-Afrika se Ashleigh Buhai het 67 houe in die tweede ronde aangeteken en is 138 (-6), gevolg deur Nicole Garcia (141) en Lee-Anne Pace (142).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.