Amerikaanse PGA: SA spelers sukkel in die wind

Will Zalatoris (Foto: Ezra Shaw/Getty Images/AFP)

Net vier van die 11 Suid-Afrikaners wat in die Amerikaanse PGA-kampioenskap speel wat by Southern Hills in Tulsa, Oklahoma, beslis word, het die afsnypunt van 144 houe en minder ná die eerste twee rondes behaal.

Hulle is Justin Harding, Shaun Norris, Louis Oosthuizen en Charl Schwartzel. Branden Grace, Christiaan Bezuidenhout, Dean Burmester, Daniel van Tonder, Garrick Higgo, Oliver Bekker en Erik van Rooyen was nie so gelukkig nie en sal die laaste twee rondes voor die televisie moet volg.

Die onbesonge Amerikaner Will Zalatoris (131, -9) is met een hou voor nadat hy 65 houe in ʼn windverwaaide tweede ronde aangeteken het.

Hy word gevolg deur die 25-jarige Mito Pereira van Chili (132), wat in slegs sy tweede Major speel. Dan volg Justin Thomas van Amerika (134), nog ʼn Amerikaner Bubba Watson (135) en Rory McIlroy van Noord-Ierland, Abraham Ancer van Mexiko en Miles Riley van Amerika, wat almal op 136 een hou verder terug is.

Die 25-jarige Zalatoris, wat in 2018 ʼn beroepspeler geword het, kon nog nooit ʼn toernooi in die PGA-reeks wen nie, maar hy spog reeds met vyf toptien-plekke.

Dit sluit in sy tweede posisie in die Amerikaanse Meesters in 2021.

Sy telling van 131 ná die eerste twee rondes, is die derde beste nog in ʼn Major-toernooi.

Nog net Jason Day (128 in 2019) en Gary Woodland (130 in 2018) kon beter vaar.

Voeg daarby dat van die sewe vorige Major-toernooie wat by Southern Hills beslis is, was die uiteindelike wenner ná 36 of 54 putjies voor.

Dit sluit Suid-Afrika se Retief Goosen (Amerikaanse Ope in 2001) en Nicky Price (PGA in 1994) in.

Harding en Norris se 143 (+3) was die beste van die SA spelers en hulle is saam in die 53ste posisie.

Oosthuizen en Schwartzel is albei op 144 (+4) en na alle waarskynlikheid buite die wedloop.

Grace (145), Bezuidenhout (146), Burmester (147), Van Tonder (149), Higgo (150), Bekker (15) en Van Rooyen (151) kon nie die valbyl vryspring nie.

Een troospunt is dat Scottie Scheffler, die voorste speler op die wêreldranglys, en ander bekendes soos Dustin Johnson en Patrick Cantlay dit ook nie kon maak nie.

Tiger Woods (143, +2) het dit darem gemaak nadat hy 69 houe in die tweede ronde aangeteken het.

* Vir die Amerikaner Aaron Wise (141), sal dit straks ʼn wyse besluit wees om eers weer medies ondersoek te word voordat hy voortspeel.

Volgens The Golf Channel was Wise op die sewende putjie toe hy afgebuk het om sy bal in die ruveld te identifiseer. Hy is teen die kop getref deur ʼn bofhou van die Aussie Cameron Smith, wat op die putjie langsaan gespeel het.

Wise het voortgegaan en die putjie gelyk aan baansyfer voltooi.

Nadat hy sy ronde voltooi het, het hy weer ʼn yspak teen sy kop gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.