Amerikaanse PGA: Scottie-hulle loop voor

Scottie Scheffler (Foto: Kevin C. Cox/GETTY IMAGES NORTH AMERICA/Getty Images via AFP)

Drie spelers, die Amerikaner Scottie Scheffler, die Noorweër Viktor Hovland en die Kanadees Corey Connors, het die voortou by die halfpadmerk van die Amerikaanse PGA-toernooi by Oak Hill in Rochester, New York, geneem terwyl verskeie van die wêreld se voorste gholfspelers al hul vernuf moes inspan om die laaste twee rondtes te oorleef.

Spel het gisteroggend ʼn uur of twee laat begin nadat die ryp eers opgeklaar het, terwyl dit Vrydagmiddag ook begin reën het.

Scheffler-hulle het saam op 135 (-5) geëindig en is twee houe voor Bryson DeChambeau (hy het 7 kg in 24 dae afgeskud nadat hy sy dieet drasties aangepas het en ook sy swaai verander het) en Justin Shuh (albei van Amerika op 137, -3).

Hulle is een hou voor hul landgenoot Brooks Koepka en Callum Tarrren (Engeland) wat saam sesde op 138 (-2) is.

Koepka, wat 66 houe in die tweede rondte aangeteken het, het 31 houe oor die tweede nege op sy telkaart ingevul en is naas Scheffler nou die groot gunsteling.

Nog ʼn Kanadees, Taylor Pendrith, en die Engelse veteraan Justin Rose het op 139 (-1) geëindig, wat beteken het dat net nege spelers die eerste twee rondtes onder die baansyfer voltooi het.

Dit was ʼn opdraande stryd vir van die ander gunstelinge, met die Noord-Ier Rory McIlroy (141) wat met sy 69 in die tweede rondte saam tiende geplaas is.

Dustin Johnson is ook op 141, met die Aussie Adam Scott op 142.

Verlede jaar se kampioen, Justin Thomas (145), het op die 18de putjie ʼn hou aan baansyfer afgestaan en kon net-net die afsnypunt vryspring, terwyl ʼn swetsende Jon Rahm van Spanje baie diep moes delf om op 144 houe te eindig nadat hy drie opeenvolgende voëltjies oor die tweede nege putjies aangeteken het.

Hy is saam met die Aussie Cameron Smith op 144 in die 48ste posisie.

Rahm, wat ʼn sukkelende 76 houe in die eerste rondte aangeteken het, het homself reggeruk en 68 houe aangeteken.

Uit ʼn Suid-Afrikaanse oogpunt het Dean Burmester en Thriston Lawrence (albei 144, +4) ook die afsnypunt gehaal, maar Christiaan Bezuidenhout (+6) en Ockie Strydom (+13) was nie so gelukkig nie.

Van die wêreld se ander voorste spelers soos Jason Day, Rickie Fowler, Matt Kuchar, Matt Fitzpatrick en Billy Horschel se aanslae is ook daarmee heen.

* In Lusaka loop Suid-Afrika se Stephan Wears-Taylor, sy landgenoot Sean Bradley en Robson Chinoi van Zimbabwe op 133 houe (-11) saam voor ná die tweede rondte van die Zanaca-Meesters, wat deel is van die Sonskynreeks.

Hulle word gevolg deur Neil Schietekat en David Wicks van Engeland wat saam op 134 (-10) is, met Trevor Fisher (jr) en Malcolm Mitchell (albei van Suid-Afrika) saam op 135 (-9).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.