
Die Amerikaner Collin Morikawa en joggie J.J. Jakovac reageer na ‘n voëltjie op die 16de. (Foto: Kevin C. Cox/AFP)
Terwyl die wêreld se drie voorste spelers Donderdag gesukkel het om hul suiers behoorlik te laat vuur, was die Yank Collin Morikawa aan die brand en het die tweemalige Major-kampioen die eerste dag van die Toerkampioenskap in die gesamentlike voortou afgesluit.
Die 26-jarige Morikawa het die East Lake-gholfbaan in Atlanta in Georgia maklik getem deur sewe voëltjies en ʼn arend op sy telkaart in te vul vir ʼn voortreflike vertoning van 61 houe – nege houe minder as die baansyfer.
Aangesien Morikawa die toernooi op -1 volgens die FedExbeker-riglyne begin het, is hy op -10 boaan die voorlopersbord saam met Keagan Bradley en Viktor Hovland.
Bradley was selfs naby aan vuurwarm met ʼn telling van 63, terwyl Hovland, wat verlede week die BMW-kampioenskap gewen het, sy stewige spel voortgesit het met ʼn skaflike 68 in ideale weersomstandighede.
Bradley het die toernooi op -3 begin met Hovland wat op -8 afgeslaan het.
Die drie voorlopers word op -9 gejaag deur Scottie Scheffler, die wêreld se no. 1 wat in ʼn stadium op -13 ʼn voorsprong van drie houe geniet het voordat rampspoed hom getref het.
Die gewese Amerikaanse Meesterskampioen het by die 11de en 12de putjies houe laat val nadat sy bofhoue en setyster hom in die steek gelaat het.
Die 15de putjie, ʼn syfer 3, het Scheffler egter in sy spore gestuit en die Amerikaner het drie houe aan syfer afgestaan nadat hy sy bofhou links in die water getrek het en gespartel het om die balletjie uiteindelik in die blikkie te kry.
Scheffler het egter soos ʼn kampioen met ʼn voëltjie op die 17de teruggeveg om die dag slegs een hou agter die pasaangeërs in die vierde plek af te sluit.
Hy het 71 houe (+1) gespeel nadat hy as die voorloper op die FedExpunteleer op -10 afgeslaan het.
Rory McIlroy, die wêreld se naasbeste speler, en Jon Rahm, no. 3 op die wêreldranglys, deel op -7 die sewende posisie nadat albei wisselvallige spel opgedis het.
McIlroy, wat hom so byna weens rugspasmas aan die toernooi onttrek het, het swak begin en verlore houe by die tweede en agtste putjies het hom van -7 na -5 laat terugsak.
Die Noord-Ier het sy eerste voëltjie van die dag by die tiende putjie aangeteken net om dadelik by die 11de ʼn hou aan syfer af te staan.
Drie voëltjies by die 13de, 15de en 16de putjies het McIlroy weer op koers geplaas voordat hy die dag op ʼn suur noot afgesluit het met ʼn brouhou by die 18de vir ʼn telling van 70.
“Ek is maar net te bly ek kon speel. ʼn Dag se rus sal hopelik die regte medisyne wees,” het McIlroy agterna oor sy besering gesê.
Hy is die verdedigende kampioen en mik vandeesweek na ʼn vierde FedEx-beker nadat hy ook in 2016 en 2019 die seisoen as die topspeler afgesluit het.
Rahm, die huidige Amerikaanse Meesterskampioen, het op -6 afgeslaan en sy telling tot -7 verbeter nadat hy vir ʼn 69 geteken het.
Die Spanjaard het in 33 houe gedraai, maar drie agtereenvolgende brouhoue vanaf die 13de putjie het hom duidelik die josie in gehad.
Die Europese gholfster gee egter nooit op nie en het al brommende voëltjies by die laaste twee putjies aangeteken om die dag met ʼn effense glimlag af te sluit.
Vandeesweek se wentjek beloop ʼn asembenemende $18 miljoen (sowat R340 miljoen) en ʼn rillerstryd word in die vooruitsig gestel voordat die volgende kampioen Sondag gekroon word.
The lowest round of his career ????@Collin_Morikawa moves to solo second after a flawless round @TOURChamp. pic.twitter.com/0KUVe8W3VM
— PGA TOUR (@PGATOUR) August 24, 2023
Saso voorloper by LPGA
In die LPGA-reeks is Japan se Yuka Saso die voorloper met een hou ná die eerste ronde van die CPKC Ope, wat by die Shaughnessy-klub in Vancouver in Kanada beslis word.
Saso is op 66 (-6) boaan die voorlopersbord met die Sweed Linn Grant wat op 67 in haar nek blaas.
Dié twee word gevolg deur die nuweling Rose Zhang en die wêreld se no. 2, Jin Young Ko, op 69.
Die verdedigende kampioen, Suid-Afrika se Paula Reto, se treurmare op die gholfbaan duur voort.
Sy was ná tien putjies gelyk aan syfer, maar ses brouhoue oor die laaste agt putjies het haar sien teken vir ʼn bitter teleurstellende 78.
Ashleigh Buhai het nie veel beter vertoon nie en moes met ʼn telling van 76 tevrede wees nadat sy oor die eerste ses putjies vyf houe aan syfer afgestaan het.
Tsjeggiese Meesterstoernooi
Die Fin Sami Valimaki gee in Praag met ʼn telling van 61 houe (-9) die pas aan ná die eerste ronde van die Tsjeggiese Meesterstoernooi.
Valimaki het vyf agtereenvolgende voëltjies oor sy tweede nege putjies aangeteken in ʼn foutlose vertoning van nege voëltjies en nege syfers.
Die Duitser Max Schmidt is op -7 een van ʼn groep van vier spelers wat in Valimaki se nek blaas.
Suid-Afrika se Oliver Bekker, Ockie Strydom en Justin Walters het met tellings van -2 die beste van die land se deelnemende spelers vertoon.
Só staan sake by Sonskynreeks
In die plaaslike Sonskynreeks het Jonathan Broomhead en Gerhard Pepler die pas aangegee ná die eerste ronde van die Bains Whiskey Ubunye-kampioenskap wat by die Pretoria-buiteklub beslis word.
Broomhead en Pepler het die eerste ronde van dié spantoernooi in ʼn puik telling van 61 houe (-11) voltooi om ʼn voorsprong van een hou te neem.
Die beste telling tussen die twee spelers op elke putjie word as die spantotaal getel.
Wynand Dingle en Heinrich Bruiners is op -10 in die tweede plek met drie spanne wat op -8 die derde plek deel.
We are all warmed up and ready for the second round of the @BainsWhisky Ubunye Championship ????️♂️????
???? Open the Sunshine Tour app for the live leaderboard.
???? Buy your tickets and watch the live action ???? https://t.co/1vkaYzDD8p#BainsWhiskyUbunyeChamps #GreatnessBeginsHere… pic.twitter.com/1Hc8rthoQy— Sunshine Tour (@Sunshine_Tour) August 25, 2023