Ashleigh en Paula onder uitgelese groep

Ashleigh Buhai in aksie op die gholfbaan. (Foto: Douglas P. DeFelice/Getty Images via AFP.)

Die room van vroue-gholf is vandeesweek die eerste keer in die geskiedenis in Texas in Amerika byeen om sake uit te spook in die LPGA-reeks se eerste major-toernooi van die jaar.

Suid-Afrika se twee voorste spelers, Ashleigh Buhai en Paula Reto, tel albei onder die uitgelese groep van 132 spelers wat van Donderdag af na sukses mik in die Chevron-kampioenskap op The Club at Carlton Woods-baan in Houston.

Die Chevron-toernooi is tot verlede jaar vir 51 jaar by die Mission Hills-buiteklub in Palm Springs in Kalifornië aangebied voordat dit vandeesweek na Texas geskuif het.

Buhai (no. 18) is een van nie minder nie as 42 van die topvyftig‑spelers op die wêreldranglys wat deel is van die Chevron-veld, terwyl Reto, tans no. 58 in die wêreld, vir die eerste van die seisoen se vyf major-toernooie gekwalifiseer het toe sy verlede jaar die Kanadese Ope gewen het.

Die 33-jarige Buhai het verlede jaar slegs die tweede Suid-Afrikaanse vrouespeler geword om ʼn major-titel te wen toe sy op Muirfield in Skotland die gesogte Britse Ope gewen het.

Sy het daarna in Desember ook die Australiese Ope-kroon ingepalm om die 2022-seisoen op ʼn hoë noot af te sluit.

Die Johannesburgse geldspeler het verlede maand ook die SA Ope op Steenberg in Tokai gewen en dit wou voorkom of haar goeie spelpeil steeds met haar was.

Sy het egter daarna die afsnypunte in haar laaste twee verskynings in die LPGA-reeks gemis en ondersteuners sal hoop dat sy die laaste twee weke dinge op die oefenbof kon regstel.

Suid-Afrika se Paula Reto vier haar oorwinning in Kanada. (Foto: Vaughn Ridley/Getty Images/AFP)

Reto se spelpeil is ook ongelukkig nie te waffers nie. Sy het die seisoen op ʼn hoë noot begin deur onder die toptien te eindig in die toernooi van kampioene in Januarie.

Sedertdien het Reto egter kleigetrap en verlede week die afsnypunt in die Lotte-kampioenskap gemis nadat sy die vorige twee weke onder die agterosse klaargemaak het.

Die boorling van Strand het egter verlede jaar die Kanadese Ope uit die nuut gewen en sy kan met enigiemand saamgesels indien haar setyster warm is. Sy sal hoop dit is die volgende paar dae die geval.

Die groot gunstelinge in die stryd om die Chevron-titel is die Nieu-Seelander Lydia Ko, die Amerikaner Nelly Korda, die Suid-Koreane In Gee Chun en Jin Young Ko, Minjee Lee van Australië en die twee Thaise sensasies Atthaya Thitikul en Natthakritta Vongtaveelap.

Van dié sewe is die twee Thaise spelers die enigstes wat nog nie major-sukses gesmaak het nie.

Hulle speel albei vreeslose gholf en slaan die balletjie ʼn myl van die bof af. Op hul beste is hulle so goed soos enigiemand en dit is net ʼn kwessie van tyd voordat hulle ʼn deurbraak op die grootste verhoog maak.

*Die Sonskyn-reeks se Toer-kampioenskap word van Donderdag af op Serengeti buite Kempton Park beslis met die topvyftig‑spelers op die Luna-verdienstelys wat sake sal uitspook.

Die topdrie op die geldlys na afloop van die Toer-kampioenskap sal spelerskaarte vir die DP World-reeks, die ou Europese reeks, ontvang, asook Bitcoin ten bedrae van R700 000.

Die huidige topdrie is Ockie Strydom, Thriston Lawrence en Jaco Prinsloo.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.