Australiese Ope: Derde keer skeepsreg vir Louis?

Louis Oosthuizen (Foto: Louis Oosthuizen/Facebook)

Suid-Afrika se Louis Oosthuizen is binne trefafstand van die voorlopers ná die derde ronde van die Australiese Ope-gholftoernooi wat by die Australian‑gholfklub in Sydney beslis word, maar hy sal sy teleurstellende vertonings in die laaste ronde van sy afgelope twee toernooie moet afskud om sy stem dik te maak.

Die Australiër Matt Jones (200) is drie houe voor (13 onder die baansyfer) nadat hy 68 houe in die derde ronde aangeteken het. Hy het Saterdagoggend met ʼn voorsprong van een hou afgeslaan en is een hou voor die Amerikaner Cameron Tringale (203), gevolg deur Oosthuizen, die Engelsman Paul Casey en Takumi Kanaya, die wêreld se voorste amateur van Korea, wat almal op 204 geëindig het.

Oosthuizen het drie voëltjies in sy ronde van 70 behaal en was ná die 10de putjie voor. Maar hy het op die 12de putjie (ook op die 8ste) houe aan baansyfer afgestaan en sy voorsprong prysgegee, terwyl Jones op sy tuisbaan na vore gebeur het.

Oosthuizen was onlangs in die Nedbank-uitnodigingstoernooi by Sun City en die DP-wêreldkampioenskap in Doebai ook in die binnebaan ná drie rondes. Maar hy het onderskeidelik tellings van 75 en 72 in die laaste ronde aangeteken om 6de en 20ste te eindig.

Ja, daar was versagtende omstandighede in Pilanesberg omdat hy met nierstene gesukkel het, maar in Doebai het sy spel uitgerafel.

Tiger Woods (Foto: TigerWoods.com)

Nogtans sal sy volgehoue goeie spelpeil vir Ernie Els, die kaptein van die internasionale span vir aanstaande week se Presidentebeker-kragmeting met Amerika in Melbourne, soos manna uit die hemel wees.

Oosthuizen is een van die ankers, en karakters, in Els se span en as hy kan vasbyt, sal dit die internasionale span se aandele die hoogte laat inskiet.

* In die Bahamas het Tiger Woods, die kaptein (en spanlid) van die Amerikaanse span, op die regte tyd sy peil teruggewen toe hy slegs twee houe (205) agter sy Amerikaanse spanmaat Gary Woodland (203) die derde ronde afgesluit het in die Hero World Challenge-toernooi.

Die Sweed Henrik Stenson en Patrick Reed, nog ʼn lid van Woods se span, is saam tweede (albei op 204), gevolg deur Woods, Justin Thomas en die Spanjaard Jon Rahm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.