Australiese Ope: Só naby, en te ver, vir Louis Oosthuizen

Matt Jones het eindelik met die titel weggestap. (Foto: Twitter)

Net een hou, nog net een putjie.

Dít was na alle waarskynlikheid waarop Suid-Afrika se Louis Oosthuizen gehoop het toe hy Sondag in Sydney die laaste ronde van die Australiese Ope-gholftoernooi voltooi en sy telkaart ingehandig het.

Oosthuizen was warm, vuurwarm nadat hy drie voëltjies en ʼn arend (op die 18de) oor die laaste nege putjies behaal het. Hy het net 31 houe benodig en het die agterdeur oopgeskop vir ʼn uitspeelstryd, maar toe klap die 37-jarige Aussie Matt Jones die deur in sy gesig toe.

Oosthuizen het net een hou agter Jones, wat maar 139ste op die wêreldranglys is, geëindig nadat hy die laaste ronde in 66 houe voltooi het. Oosthuizen het op 270 houe geëindig, 14 houe onder die baansyfer.

Jones, wat in die laaste groep saam met die Amerikaner Jason Tringale gespeel het, het op die 17de putjie ʼn voëltjie behaal om met drie houe voor te loop toe hy op die 18de afgeslaan het.

Maar in gholf sê hulle mos niks is verby voordat die sogenaamde vet tannie gesing het nie.

Jones, wat op sy tuisbaan gespeel het, se bofhou het in een van die sandkuile langs skoonveld beland. Toe speel hy uit tot agter ʼn denneboom van waar hy steeds nie skoonveld kon haal nie. Maar ʼn skitterende naderhou en ʼn sethou van ongeveer een meter het aan hom sy tweede Aussie-titel sedert 2015 besorg.

Só het hy hom by legendes soos Gary Player, Jack Nicklaus, Greg Norman, Peter Thomson en Jordan Spieth aangesluit wat ook die Aussie-Ope twee keer kon wen.

Boonop het hy ʼn uitnodiging na vanjaar se Britse Ope losgespeel.

Met die wentjek van sowat R2,37 miljoen is dit geen wonder nie dat mevrou Jones en haar kroos van drie so breed op die 18de setperk geglimlag het nie.

Louis Oosthuizen (Argieffoto: Facebook)

Vir Oosthuizen, wat sowat R1,58 m verdien het, moes sy vertoning en peil sy selfvertroue die hoogte laat inskiet het voordat hy die internasionale span se aanslag by aanstaande week se Presidentebeker-stryd in Melbourne teen die Amerikaners lei.

* In die Bahamas het die Sweed Henrik Stenson (270) die Hero World Challenge-toernooi gewen met die Spanjaard Jon Rahm (271) tweede en die omstrede Amerikaner Patrick Reed (hy is met twee houe in die derde ronde gestraf nadat hy twee keer in die sandkuil gekrap het ­… glo oefenhoue, om sy bal meer speelbaar te maak) derde op 272 en Tiger Woods (274) vierde.

Die toernooi , wat reeds Woensdag begin het, is Saterdag afgesluit omdat die Amerikaanse span na Melbourne vir die Presidentebeker moet reis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Stephen ·

Moet se die Jones vrou het my nogal erg irriteer veral Sondag met haar “in jou gesig” houding aanmekaar voor die kameras.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.