Barker open sy Sonskynreeks-rekening

Kyle Barker spog met die silwerware. (Foto: Twitter/Sunshine Tour)

Vrydag was dit die beurt van Suid-Afrika se Luca Filippi om in die kollig te wees toe hy ʼn magiese 29 houe oor die tweede nege putjies van die tweede ronde aangeteken het. Saterdag het Casey Jarvis die Sonskynreeks se rekord vir die laagste rondetelling geëwenaar toe hy 59 houe in die derde ronde aangeteken het. Sondag het Kyle Barker die toernooi met ses houe beklink toe hy die vierde ronde in 61 (-11) houe voltooi het.

Barker het op 258 houe geëindig (-30) nadat hy tellings van 68, 64, 65 en 61 houe op sy telkaart ingevul het om sy eerste toernooi in die Sonskynreeks te wen.

Barker is deur Jarvis en Peter Karmis (albei 264 houe, -24) in die tweede posisie gevolg, met die Amerikaner Dan Erickson en die Suid-Afrikaner Lyle Rowe saam vierde op 263 (-23), gevolg deur Luke Jerling en Jaco van Zyl albei op 264 (-22).

Barker het in die laaste ronde met ʼn agterstand van drie houe afgeslaan, maar nadat hy ses voëltjies oor die eerste nege met nog vyf oor die tweede nege opgevolg het, was hy onkeerbaar op pad om sy rekening te open.

Wat Barker se oorwinning soveel soeter gemaak het, is dat hy in sy laaste vier toernooie nie die afsnypunt kon haal en geen prysgeld verdien het nie.

* In die Amerikaanse PGA-reeks se RBC-toernooi wat by Hilton Head Island beslis is, het Matthew Fitzpatrick van Engeland die Amerikaner Jordan Spieth op die derde uitspeelputjie geklop om die toernooi te beklink.

Albei het op 267 houe (-17) geëindig, met die Amerikaner Patrick Cantlay tweede op 268 (-16), gevolg deur sy landgenoot Xander Schaufelle derde op 269 (-15).

Die ironie is dat Spieth verlede jaar aan die wenkant was toe hy Cantlay in ʼn uitspeelstryd geklop het.

Suid-Afrika se Christiaan Bezuidenhout het 64 houe in die laaste ronde aangeteken en op 274 (-10) 19de geëindig.

Garrick Higgo het op 279 houe klaargemaak en Ernie Els, wat 73 houe in die laaste ronde aangeteken het, was 56ste op 282 (-2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.