Bekker hou aan veg in Spanje

Oliver Bekker. (Foto: Ross Kinnaird/Getty images/AFP)

As die senuwees nie te veel knaag nie en Suid-Afrika se Oliver Bekker kan bly kophou, kan hy in die wedloop bly om die Kataloniese gholfkampioenskap in Girona, Spanje, te wen.

Die 37-jarige Bekker wat in 2008 ʼn beroepspeler geword het, het reeds sewe toernooie in die Sonskynreeks gewen, insluitende drie toernooie in 2017, maar ʼn sege in die Europese reeks en DP World Tour ontwyk hom steeds.

Bekker, wat ʼn lid van die Stellenbosch-gholfklub is, het Vrydag die tweede ronde in 72 houe voltooi en is op 138 houe (-6) net een hou agter die voorloper, Laurie Canter van Engeland (137, -7).

Bekker is saam met nog ʼn Engelsman, James Morrison, tweede, gevolg deur die Deense veteraan Thomas Bjørn, die Spanjaard Ivan Cantero Gutierrez, Ryan Fox van Nieu-Seeland, Daniel Gavins van Engeland en die Fransman Adrien Saddier, wat almal op 139 houe saam vierde is.

Bekker, wat ná die eerste ronde alleen voor was, het in die tweede ronde op die 11de putjie ʼn hou aan baansyfer afgestaan en teruggesak, maar met ʼn arend op die 16de vergoed deur die voortou te neem voordat Canter sy nek voorgekry het.

Darren Fichardt (140) is saam negende, gevolg deur Thriston Lawrence en Hennie du Plessis, albei in die 26ste posisie op 142.

Justin Walters is verder terug op 143 en Daniel van Tonder het 145 houe oor die eerste twee rondes aangeteken.

* Die Spanjaard Jon Rahm, wat in 2021 die wêreld se voorste speler was, het sy peil in die Mexikaanse Ope in Vidanta herwin toe hy 64 houe in die tweede ronde aangeteken het.

Rahm is ná die tweede ronde van dié toernooi in die Amerikaanse PGA-reeks op 130 (-12) twee houe voor Alex Smalley van die VSA (132).

Die Amerikaners Trey Mullinax, Adam Long, Brandon Hagy, Cameron Champ, Patrick Reed en Andrew Novak is almal saam derde op 133 (-9).

Suid-Afrika se Dawie van der Walt (147) kon nie die afsnypunt haal nie.

*  By die Serengeti-gholflandgoed buite Kempton Park loop Tristen Strydom, wat op dié landgoed woon, voor ná die tweede ronde van die Toer-kampioenskap, wat die laaste toernooi in vanjaar se Sonskynreeks is.

Strydom is op 133 houe (-11).

Hy word gevolg deur Pieter Moolman (134), George Coetzee (137), Jaden Schaper en Deon Germishuys (albei 139) en Estiaan Conradie (140).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.