Bestendige Koepka voor in PGA-toernooi

Brooks Koepka van die VSA slaan af by die PGA-toernooi. (Foto: David Cannon/Getty Images via AFP)

Brooks Koepka, ʼn tweemalige Amerikaanse PGA-gholfkampioen, is stewig op koers om sy derde titel te beklink mits hy nie soos in die onlangse Meesterstoernooi in April in die laaste ronde uitsak nadat hy ook voorgeloop het nie.

Koepka, wat die PGA-toernooi in 2018 en in 2019 gewen het, het by die Oak Hill-buiteklub in Winchester, New York, ʼn voorsprong van een hou bo die Noorweër Viktor Hovland en Corey Connors (Kanada) nadat hy 66 houe in die derde ronde aangeteken het.

Hy het op 204 (-6) sopnat in die klubhuis geëindig nadat dit deurentyd gereën het.

Koepka, wat saam met DeChambeau gespeel het, is op die eerste putjie uitgejou weens hul betrokkenheid by die LIV-gholfreeks, maar hulle het gou die sentiment omgekeer met hul puik spel en is later op elke putjie toegejuig.

Koepka, wat tellings van 72, 66 en 66 in die eerste drie rondes aangeteken het, is een hou voor Hovland en Connors (albei 205 -5).

Hulle word gevolg deur die heelwat skraler DeChambeau op 207 (-3), met die 42-jarige Engelsman Justin Rose en die Amerikaner Scottie Scheffler saam op 208 (-2).

Noord-Ierland se Rory McIlroy (209, -1) is nie heeltemal uit die wedloop nie, maar die Spanjaard Jon Rahm (216, +6) kon nie die reëntoestande baasraak nie.

Suid-Afrika se Dean Burmester is ook op 216 (+6) met Thriston Lawrence op 217 (+7).

* In die Zanaca-Meesterstoernooi wat in Lusaka in Zambië beslis word, loop die Engelsman Jeff Wicks met een hou voor ná die derde ronde.

Wicks, wat op 201 houe (-15) geëindig het, is een hou voor Suid-Afrika se Sean Bradley (202, -14), gevolg deur Robson Chinoi van Zimbabwe (203, -13), met Suid-Afrika se Stefan Wears-Taylor vierde op 204 (-12).

Die Sonskynreeks is ʼn reddingsboei vir die 29-jarige Wicks, wat verlede jaar besluit het om sy loopbaan prys te gee omdat hy min welslae behaal het.

Hy is aangeraai om die Sonskynreeks as ʼn laaste opsie te gebruik, het onderskeidelik sesde in die Kwalifiseringskool en onlangs 15de in die Zimbabwe-Ope in Harare geëindig.

Nou loop hy voor.

Hy het aan die Sonskynreeks se webwerf gesê dat hy nie seker is hoe om sy emosies te beheer nie omdat hy nog nie voorheen in dié posisie was nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.