Bestendige Louis se ideale voorbereiding

Louis Oosthuizen. (Foto: AP/ Kamran Jebreili)

Bestendigheid is een van die hoofpilare waarop gholf se sukses gebou is.

Al het Suid-Afrika se Louis Oosthuizen laat Sondagaand (Suid-Afrikaanse tyd) in Minnesota nie die voorlopers kon inhaal in die WGC se St. Jude-uitnodigingstoernooi nie, kon hy en twee van sy landgenote, Christiaan Bezuidenhout en Erik van Rooyen, kwalik vir beter voorbereiding vir vandeesweek  se Amerikaanse PGA gevra het wat by TPC Harding Park in San Francisco gespeel word.

Oosthuizen het saam sesde geëindig nadat hy die laaste ronde in 68 houe voltooi het. Voeg dit saam met sy eerste drie rondes van 68, 67 en 68 wat aan hom ʼn totaal van 271 houe besorg het, nege minder as die baansyfer en net vier houe agter die Amerikaner Justin Thomas (267).

Oosthuizen het twee voëltjies in die vierde ronde aangeteken en geen hou aan baansyfer afgestaan nie.

Bezuidenhout en Van Rooyen het saam op 274 houe in die 20ste posisie geëindig.

Die 27-jarige Thomas, wat op die noodknoppie van ʼn nuwe joggie, Jim “Bones” Mackay, moes druk om te kom uithelp nadat sy eie joggie, Jimmy Johnson, verlede week duiselig geraak het, het drie houe voor drie van sy landgenote Daniel Berger, Brooks Koepa en Phil Mickelson en die onbesonge Engelsman Tom Lewis geëindig met Oosthuizen-hulle wat in hul nekke geblaas het.

Thomas het die derde jongste speler geword wat 13 toernooie in die PGA-reeks kon wen.

  • In Truckee, Nevada, het Richy Werenski die Barracuda-toernooi gewen (+39), met Troy Merritt (+38) tweede en Fabian Gomez van Argentinië en nog ʼn Amerikaner, Matthias Schwab, saam derde (+37).

Dit is die toernooi warin Branden Grace gespeel het, maar Saterdagoggend aan die derde ronde onttrek is nadat hy positief vir Covid-19 getoets is.

Grace het Maandagoggend in ʼn twiet gesê dat hy negatief getoets is ná die onlangse 3M-toernooi in Minnesota, voor die PGA se huurvlug na Reno en ook voor die Barracuda-toernooi.

Hy het Vrydagaand ʼn hoofpyn ontwikkel, van swak spysvertering en ʼn seer lyf begin kla en is Saterdagoggend getoets.

Hy het voorheen geen ander simptome getoon nie en sal nou die PGA misloop.

Nadat hy die organiseerders in kennis gestel het, sal hy nou nie meer in die PGA kan speel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.