Bezuidenhout, Coetzee blink uit in woestynstad

Christiaan Bezuidenhout. Foto: Michael Sherman (ANA)

Die son het Saterdag in Abu Dhabi helder geskyn op Suid-Afrika se Christiaan Bezuidenhout en George Coetzee in die derde ronde van die Abu Dhabi-gholftoernooi.

Terwyl die meeste van die aandag gevestig op die Noord-Ier Rory McIlroy gevestig was toe hy weer die voortou geneem het nadat hy dit in die tweede ronde aan Tyrrell Hatton van Engeland afgestaan het, het die twee Suid-Afrikaners ook die oog getref.

Dalk het die handjievol toeskouers wat op die baan toegelaat is, die spelers aangespoor om hul beste voet voor te sit.

McIlroy (203) is ná sy telling van 67 houe op 13 houe onder die baansyfer en een hou voor Hatton (204), gevolg deur Tommy Fleetwood van Engeland (205). Die Amerikaner David Lipsky en die Skot Marc Warren is albei op 206 saam vierde.

Bezuidenhout en Coetzee is albei op 209 in die gesamentlike agtste plek en steeds in die wedloop.

George Coetzee. Foto: Christiaan Kotze/AFP

Bezuidenhout het saam met Fleetwood die dag se beste rondte van 67 houe aangeteken. Die Suid-Afrikaner het ses voëltjies aangeteken, maar op die vyfde putjie (syfer 4) verbrou en ʼn hou aan baansyfer afgestaan.

Bezuidenhout, wat 71 houe in albei die eerste en tweede rondes aangeteken het, het met 28 posisies opgeskuif.

Coetzee was ook op sy stukke met 68 houe. Hy het ses voëltjies aangeteken, maar twee houe op die sesde putjie (syfer 4) aan baansyfer afgestaan wat sy telkaart belemmer het. Hy het nietemin met 18 plekke verbeter.

McIlroy, wat nie een toernooi verlede jaar kon wen nie, kry nou sy groot kans om die jaar op ʼn hoogtepunt te begin. Hy het reeds vier keer tweede in Abu Dhabi geëindig en drie keer derde. Hy was nog net een keer buite die top-11 en ʼn oorwinning is binne sy visier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Elsabe

Wonderlik. Doet so voort.