Bezuidenhout hou deur oop by Arnold Palmer-toernooi

Die Kanadees Corey Conners slaan af in die tweede ronde van die Arnold Palmer-uitnodigingstoernooi in Florida. (Foto: Sam Greenwood/Getty Images/AFP)

Dis een van daardie dinge wat ʼn gholfspeler haat: Wanneer swaar reën vir die volgende dag se ronde voorspel word.

Dit is wat Saterdagaand (SA tyd) by die Bayhill-buiteklub in Orlando, Florida, in die derde ronde van die Arnold Palmer-uitnodigingstoernooi in die Amerikaanse PGA-reeks op die spelers wag.

Dit sal verdere eise aan die spelers stel, want die baan sal moeiliker en langer speel, die setperke veel sagter met nat sandkuile wat wag.

Boonop bestaan die kans vir ʼn reënonderbreking.

Die Kanadees Corey Conners, wat sy eerste en enigste oorwinning tot dusver in die reeks in 2019 behaal het toe hy die Texas-Ope beklink het, het 69 houe in die tweede ronde aangeteken wat weer ʼn arend op die 16de (syfer 5) ingesluit het. Hy is na sy 66 houe in die eerste ronde op 135, nege houe minder as baansyfer.

Hy word gevolg deur die Skot Martin Laird, wat 93ste op die wêreldranglys is en ook in 2011 by Bayhill gewen het.

Vier spelers is saam derde op 137, wat die Noord-Ier Rory McIlroy, die Noorweër Viktor Hovland (hy gaan binnekort ʼn toernooi wen) en Lanto Griffin van die VSA insluit.

Die spiertier Bryson de Chambeau is op 138 houe (-6) sesde.

Van die Suid-Afrikaners was Christiaan Bezuidenhout die beste geplaas met twee rondes van 70 houe. Hy is op 140 houe (-4) saam in die 11de posisie.

Bezuidenhout het swak begin en by die eerste en tweede putjies houe aan baansyfer afgestaan, maar sy ronde met vyf voëltjies afgesluit nadat hy op die negende ook verbrou het.

Branden Grace, wat verlede week die Puerto Rico-ope gewen het, is in die gesamentlike 53ste posisie op 145 gevolg deur Erik van Rooyen (146) wat net-net die valbyl om te kwalifiseer, vrygespring het.

Vir Dylan Frittelli (149) en Charl Schwartzel (150) het dinge egter nie so rooskleurig verloop nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.