Bitter McIlroy praat oor samesmelting van PGA, LIV

(Foto: Phil Duncan/DPPI /AFP)

Rory McIlroy is siedend dat hy die spreekwoordelike offerlam was in die Amerikaanse PGA-gholfreeks se geveg teen die LIV-rebelle.

Die Noord-Ierse ster het egter die vredesooreenkoms tussen die twee strydende partye geloof as die beste uitweg om die toekoms van die spel te verseker.

“Oor tien jaar sal ek kan terugkyk en sê dit was die regte besluit om hande te vat om die toekoms van die spel te verseker.

“Die Saoedi-Arabiese Openbare Beleggingsfonds (PIF) wil met alle mag by gholf betrokke wees. Hulle gaan dus nie net opgee nie. Daarom is dit beter om hulle as ʼn vennoot te hê, as om vyande te wees.

“Maar ek haat LIV steeds. Ek wens dit wil verdwyn,” het die viermalige major-kampioen gesê. Hy verduidelik dat die PGA-reeks wat hom betref ʼn ooreenkoms met die Openbare Beleggingskorporasie – en nie met LIV nie – aangegaan het.

McIlroy het ʼn aanbod van nagenoeg R8 miljard van die hand gewys om hom by die omstrede LIV-reeks aan te sluit toe dit verlede jaar van stapel gestuur is. En sy groot vriend en vyftienmalige major-kampioen Tiger Woods het glo nee gesê vir sowat R15 miljard om sy rug op die PGA-reeks te keer.

So, verwag McIlroy dat hy en Woods vergoed sal word vir hul lojaliteit teenoor die PGA-reeks?

“Ja, ek verwag iets. Wat dit ook al sal wees en op watter wyse dit sal gebeur, is nog geensins duidelik nie, maar sal in die toekoms bespreek word,” sê McIlroy.

Hy het dit ook baie duidelik gemaak dat die LIV-rebelle nie eenvoudig met ope arms terugverwelkom sal word nie.

“Daar móét gevolge wees vir hul optrede. Hulle het die PGA-reeks skade aangedoen en sal ʼn prys daarvoor moet betaal,” sê McIlroy.

Die PGA-reeks se uitvoerende hoof, Jay Monahan, het ook “ja” gesê toe hy gevra is of die PGA-reeks McIlroy en Woods iets skuld vir hul pogings om die LIV-reeks te stuit, asook of daar enige stappe sal wees teen dié spelers wat na die LIV-reeks oorgeloop het.

“Daar is nog baie besonderhede wat uitgepluis moet word voordat die finale ooreenkoms tussen ons en LIV gesluit word.

“Ek sal beslis kyk na maniere hoe om na Rory en Tiger om te sien as ons begin praat oor hoe om dinge vorentoe te laat werk. En daar sal ook hard gesels moet word oor die spelers wat weggebreek het en diegene wat lojaal gebly het teenoor die PGA-reeks,” het Monahan gesê.

Soos sake tans staan, het die PGA-reeks en die Openbare Beleggingskorporasie ooreengekom om saam met die Europese reeks ʼn nuwe gholfliggaam of maatskappy te stig wat na dié drie entiteite se kommersiële belange sal omsien.

Die PGA-reeks sal die senior vennoot wees wat die ander twee sal lei, met die korporasie wat die nuwe gholfliggaam of maatskappy sal finansier en geld beskikbaar stel om die spel wêreldwyd uit te brei, asook om groter prysgeld in wêreldgholf te verseker.

Volgens bronne het die beleggingskorporasie ingestem om $3 miljard (byna R60 miljard) as eerste paaiement te betaal om aanstaande jaar amptelik deel te wees van wêreldgholf.

Dit is glo die geldvoorraad wat nog oor is in die LIV-begroting om dié reeks van stapel te stuur.

“Uiteindelik is dit geld wat praat. Ten minste sal die PGA-reeks vorentoe in beheer van die geld wees en kan besluit hoe om dit te bestee,” het McIlroy gesê oor die verstommende bedrag geld wat die PIF ingestem het om in die spel te pomp.

Met die LIV-reeks wat skynbaar nou in sy spore gestuit is en na verwagting ʼn stille dood gaan sterf, blyk daar ʼn skietstilstand te wees in wêreldgholf se geveg om aansien.

Vrede is egter nog bitter ver weg met te veel mense en spelers wat seergekry het in die PGA- en LIV-reeks se stryd om die grootste verhoog hulle s’n te maak.

  • Bykomende bronne: Sky Sports, Sports Illustrated, Golf Digest

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Andrew ·

Professionele sport, waar kom jy aan die reg tot vergoeding? PGA het jou uitverkoop. Dink die ou het n meerdewaardigheids kompleks, ek kan nie verstaan waarvoor moet die LIV spelers boet nie? Klink of jy op jou neus moes kyk en nou suur is vir als en almal, dan kry hulle nog die skuld vir jy wat nie n major op die oomblik kan koop nie.

Manie ·

Kan Mcllroy dit nie in sy kop kry dat die PGA hom niks skuld nie? Die PGA het besluit om LIV te aanvaar, nie andersom nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.