Branden Grace se 62 is laagste Major-telling in geskiedenis

Branden Grace tydens se geskiedkundige ronde (Foto Facebook)

Die Suid-Afrikaner Branden Grace, wat Vrydag die valbyl in 45ste posisie met net twee houe geklop het, het Saterdag die eerste speler in die 412de Major-gholftoernooi oor 157 jaar geword wat ʼn ronde van 62 houe gespeel het.

Met hierdie agt-onder-prestasie het Grace na die vyfde plek opgeskuif met sy telling oor drie rondes op 206, vier houe onder die baansyfer en sewe houe agter Jordan Spieth se 199.

Spieth was ná al drie rondes voor – ná die eerste ronde gesamentlik met Matt Kuchar wat nou drie houe agter is, en Brooks Koepka, wat ses houe agtergeraak het.

Natuurlik sal Grace drome droom van ʼn oorwinning, maar die realiteit is dat hy sy wonder-ronde van Saterdag sal moet herhaal en hoop dat Spieth nie met ’n enkele hou verbeter nie om hom verby te steek.

En dan is daar natuurlik ook nog Kuchar, Austin Connelly en Brooks Koepka wat tans voor Grace is en self met twee of drie houe onder baansyfer in die laaste ronde sy droom kan verongeluk.

Saterdag, met die weer so goed as wat dit Vrydag aaklig was, het Grace vyf houe oor die eerste nege en drie oor die tweede nege opgetel.

♦  Benewens Grace het Shaun Norris, die Suid-Afrikaner wat sy gholf in Asië speel waar hy reeds vier titels gewen het, soos Grace Saterdag geen hou aan syfer afgestaan nie en vyf voëltjies behaal. Sy 65 gee hom ʼn totaal van 210, gelyk aan syfer en die tweede beste Saterdag van die Suid-Afrikaners.

♦  Ernie Els het sy bestendigheid in die toernooi voortgesit, gelyk aan syfer 70 gespeel en is nou een oor vir die toernooi. Brandon Stone het twee minder as syfer gespeel en hy is op 213 nou drie oor baansyfer, terwyl Charles Schwartzel met sy 71 en drieronde-telling van 215 gesamentlik derde laaste is van die spelers wat na die tweede ronde kon voortspeel.

Klik op die skakel vir die volledige tellings: https://www.theopen.com/Leaderboard#!/traditional

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Henry ·

Veels geluk aan Branden.
Van kleinsaf het hy op ons plaaslike baan getoon dat hy ‘n yster met ‘n yster is!
Hy het onlangs nie gehuiwer om R1,5 miljoen aan ons tuisdorpie – Knysna – te skenk ter ondersteuning van inwoners wat alles tydens die groot brand verloor het. Soos sy ouers op Buffelsbaai en sy broer in Knysna, is hulle uit baie goeie hout gesny.
Of hy hierdie keer die toernooi gaan wen is nie van veel belang nie. Dat hy vorentoe soos Louis Oosthuizen en Ernie Els daarin gaan slaag om een van die grotes Suidkaap toe te bring, is seker en vas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.