Louis Oosthuizen is sekerlik siek en sat daarvan om strooijonker te wees.
Nou het hy die gulde kans om dié juk af te skud en ʼn tweede keer aan die hooftafel van die Britse Ope-gholftoernooi te sit nadat hy in 2010 ook gewen het.
Oosthuizen het Vrydag op Royal St. George in Kent die alleen-voortou geneem ná die tweede ronde van vanjaar se Ope. Hy het sy 64 houe in die eerste ronde met 65 houe in die tweede ronde opgevolg, wat 11 houe onder die baansyfer is.
Hy het in die eerste twee rondes reeds tien voëltjies en ʼn arend aangeteken en net een keer (op die 16de putjie, syfer 3) ʼn hou aan baansyfer in die tweede ronde afgestaan.
Dié links-baan pas hom soos ʼn handskoen, want hy slaan die bal reguit en ver en sy naderhoue en setwerk is briljant.
Boonop het die wind net liggies gewaai toe Oosthuizen sy rondtes voltooi het.
Dit is die vyfde keer in nege Major-toernooie dat Oosthuizen by die halfpadmerk voor is.
Hy was alleen voor in vanjaar se Amerikaanse PGA-toernooi, hy was ná die eerste en derde ronde van die Amerikaanse Ope voor, maar het in die pylvak uitgesak.
Sy totaal van 129 (-11) is ʼn nuwe halfpadmerk-rekord by die Ope en verbeter op die Engelsman Nick Faldo se 130 houe in 1992 op Muirfield en die Amerikaner Brandt Snedeker se 130 op Royal Latham & St. Annes in 2012.
Faldo het voortgegaan en die Ope gewen, maar Suid-Afrika se Ernie Els het Snedeker se drome verwoes.
Oosthuizen het vier voëltjies en ʼn arend in die tweede ronde aangeteken en was in ʼn stadium met drie houe voor die Amerikaner Collin Morikawa, wat op 131 (-9) alleen tweede is.
Die Amerikaner Jordan Spieth is derde (132), gevolg deur nog ʼn Suid-Afrikaner, Dylan Frittelli, en die Amerikaner Duncan Johnson (albei op 133, -7) met Daniel van Tonder en Scottie Scheffler (Amerika) op 134 (-6).
Van die ander Suid-Afrikaners het Dean Burmester (137), Christiaan Bezuidenhout (140) en JC Ritchie (141) ook gekwalifiseer, maar die valbyl het op Shaun Norris en Branden Grace (albei 143), Ernie Els (144), Jaco Ahlers (147) en Garrick Higgo (148) gesak.
Ronde, rondes, rondtes, ronde????
‘n Ronde in gholf (gewoonlik 18 putjies). 2 rondes, 3 rondes, ens.
Rondtes in ‘n motor-wedren. 1 Rondte, rondtes (meer as 1 rondte).
Fantastiese skryfwerk oor Louis Oosthuizen se puik spel, Pieter Kruger! Ek geniet jou beeldspraak terdeë (bruidegom…hooftafel…handskoen). Jou ander beskrywings is ook wonderlik gevoelvol!