Britse Ope: Is dit Louis se kroon?

Gaan Sondag Louis Oosthuizen se dag wees? (Foto: Andy Buchanan/AFP)

Vandag, presies 11 jaar gelede, was derduisende Suid-Afrikaners voor hul televisietelle vasgenael.

Die 27-jarige Louis Oosthuizen het dié Sondagmiddag in 2010 as die voorloper in die Britse Ope-gholftoernooi op St. Andrews afgeslaan en met ʼn ongelooflike sewe houe gewen.

Hy was toe reeds alombekend in Suid-Afrikaanse gholfkringe. Hy is sedert 2002 ʼn beroepspeler en het vyf toernooie in die Sonskynreeks gewen.

Oosthuizen het oornag een van wêreldgholf se gunstelinge geword, sonder enige geraamtes in sy kas, met een van die beste swaaie in gholf en altyd bereid om te glimlag.

Dit bly ʼn raaisel waarom dié boerseun van Mosselbaai nie meer Majors gewen het nie; hoekom hy reeds vier keer ná 54 putjies voor was, maar nie kon deurdruk nie.

Hy het in al vier Majors tweede geëindig om slegs een van sewe spelers te word wat met dié sogenaamde prestasie spog.

Die geluk was nie aan sy kant nie, maar nou kan hy die spinnerakke finaal afstof en jare van teleurstelling opsy skuif deur sy tweede Major te wen.

Hy slaan in die laaste ronde af op 198 (-11) af ná drie skitterrondes van 64, 65 en 69.

Oosthuizen is een hou voor die Amerikaner Collin Morikawa (199) en drie houe voor nog ʼn Amerikaner, Jordan Spieth (201).

Hulle word op 202 deur Scottie Scheffler en Corey Conners (albei 202) gevolg, met Suid-Afrika se Dylan Frittelli op 203 en Justin Harding op 204.

Daniel van Tonder en Dean Burmester is albei op 208.

Oosthuizen moes Saterdagaand die derde dag in ʼn ry vrae beantwoord oor of hy nie al moeg is om strooijonker te speel nie – en óf hy dit kan omkeer.

“Gaan een beter. Om tweede te eindig, is nie lekker nie; ek sal dus my hart uitspeel om die Claret Jug (wennerstrofee) weer omhoog te hou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kandas ·

Louis het al 6keer, tweede geindig in n Major, nie 4 keer soos die berig se nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.