Britse Ope: Uitklophou ontwyk Louis steeds

Sondag was toe nié Louis Oosthuizen se dag nie. (Foto: Andy Buchanan/AFP)

Suid-Afrika se Louis Oosthuizen kon Sondag vir die soveelste keer nie die pyp rook tydens die Britse Ope-gholftoernooi in Kent nie.

Inteendeel, dit het eerder gelyk of die pyp hóm rook soos hy van die eerste posisie al die pad na derde afgeskuif het.

Oosthuizen, wat Sondagmiddag met ʼn voorsprong van een hou in die laaste ronde van die Britse Ope-gholftoernooi op Royal St. George’s in Kent afgeslaan het, het uiteindelik vir die agtste keer derde in ʼn Major-toernooi geëindig nadat hy 71 houe in die vierde ronde aangeteken het. Dit het gevolg nadat hy twee keer tweede in twee van 2021 se ander Major-toernooie (Amerikaanse Ope en Amerikaanse PGA) geëindig het.

Oosthuizen was Sondag saam met Spanje se Jon Rahm derde op 269 nadat die 24-jarige Amerikaner Collin Morikawa op 265 houe eerste geëindig het. Morikawa het 66 houe in die laaste ronde aangeteken.

Dit was Morikawa se eerste verskyning in die Britse Ope nadat hy vroeër ook die Amerikaanse PGA in sy debuut gewen het.

Hy het twee houe voor sy landgenoot Jordan Spieth (267) geëindig.

Oosthuizen se groot treurmare was op die sewende putjie (syfer 5) toe sy bofhou in een van die sandkuile langs die skoonveld beland het. Hy het sy volgende hou tot in ʼn sandkuil langs die setperk geslaan en moes twee keer set en ʼn hou aan baansyfer afstaan.

Sy kop het begin sak en hy kon nooit werklik herstel nie.

Dit terwyl Morikawa, Spieth en Rahm arende op die maklikste putjie aangeteken het.

Louis Oosthuizen in aksie op die Royal St George’s (Foto: Paul Ellis/AFP.)

Oosthuizen, wat ses voëltjies in die eerste ronde aangeteken het, het dit opgevolg met vier voëltjies en ʼn arend in die tweede ronde, terwyl hy net een keer ʼn hou aan baansyfer afgestaan het. Hy kon nie daarop voortbou nie en het in Saterdag se derde ronde drie voëltjies behaal, maar op twee putjies houe aan baansyfer afgestaan.

In die laaste ronde het hy net twee voëltjies aangeteken en drie keer verbrou.

Sy 71 houe in die laaste ronde was die swakste van die top-14-spelers in perfekte speeltoestande.

Maar ondanks sy soveelste terugslag en al die vrae wat om sy kop hang oor hoekom hy nie ʼn uitklophou kan plant wanneer hy voor is met punte nie, het Oosthuizen steeds R11,1 miljoen verdien en tot negende op die jongste wêreldranglys opgeskuif.

Suid-Afrika se Dylan Frittelli (271) was vyfde. Hy het eers verlede Maandag gehoor dat hy wel die paal gehaal het en het op die ou einde R6,9 miljoen verdien. Justin Harding het 276 gespeel en Daniel van Tonder, Dean Burmester en JC Ritchie het almal in die 40ste posisie (met 279 houe) geëindig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
OppieProvince

Ek dink ek gaan begin golf speel, verdienste lyk nie te sleg nie…..

piet

11 miljoen, goeie genugtig. Die ou wat laaste kom, kry ook seker amper ‘n miljoen rand. Dis ‘n wen-wen situasie, jy moet net sorg jy maak die “cut” vir goeie inkomste . Selfs al kwalifiseer jy nie vir die finale rondes in ‘n Major nie, word jy steeds betaal. In die VSA-Ope verdien jy omtrent R75000 al kwalifiseer jy nie vir die finale rondes nie. Glad nie sleg nie.

Tubac

Ai Tog! Die killer instink ontbreek nog steeds.