Britse Ope vir vroue: Buhai loop los voor

Ashleigh Buhai tydens die Britse Ope-gholftoernooi vir vroue wat op Muirfield in Skotland gespeel word. (Foto: Neil Hanna / AFP)

Suid-Afrika se Ashleigh Buhai is op die randjie van ʼn oorwinning in die Britse Ope-gholftoernooi vir vroue wat op Muirfield in Skotland gespeel word.

Buhai, wat in Saterdag se derde ronde een hou agter die voorloper afgeslaan het, het die derde ronde in 64 houe (sewe houe onder baansyfer) voltooi wat agt voëltjies ingesluit het.

Die 33-jarige Buhai, wat op die 18de putjie ʼn hou aan baansyfer afgestaan het, het die baan in winderige toestande getem en sy is op 199 (-14) vyf houe voor In-Gee Chun (Korea) en Hinako Shibuno (Japan) wat albei op 204 (-9) geëindig het, met Inbee Park (Korea) en Madalene Sagstroem van Swede saam vierde op 206.

Buhai, wat slegs 84ste op die wêreldranglys is, se vorige beste vertoning in die Ope was haar vyfde plek in 2019, toe sy ná die eerste twee rondes ook voorgeloop het.

Buhai (née Simon), wat as 14-jarige haar eerste van drie Suid-Afrikaanse Ope-kragmetings gewen het, het Saterdag se ronde as haar beste nog beskryf.

Paula Reto van Suid-Afrika is 36ste op 213 en Lee-Anne Pace 62ste op 219.

*  In die Cazoo-Ope wat by die Celtix Manor-gholfkompleks in Newport, Wallis, gespeel word, is Suid-Afrika se Bryce Easton (211, -2) sewende ná die derde ronde van die toernooi wat deel is van die Road to Dubai (Europese reeks).

Die Engelsman Callum Shinkwin loop met twee houe (201, -11) voor die Fransman Julien Guerrier (203), gevolg deur die Skot Conor Syme, Johannes Veerman (Amerika), Mikko Korhonen (Finland) en Paul Waring (Engeland) wat almal op 209 (-4) is.

Easton is saam met drie ander spelers op 211 (-2).

Louis de Jager (215, +2) is 31ste, met Darren Fichardt, Jacques Blaauw en Haydn Porteous (almal op 218) saam 54ste.

* In die Wyndham-kampioenskap wat in Noord-Carolina in Amerika gespeel word, is die derde ronde van dié toernooi wat deel is van die Amerikaanse PGA-reeks deur stormweer ontwrig en sal die spelers Sondag (mits die weer dit toelaat) hul rondes moet voltooi voordat hulle in die laaste ronde afslaan.

Brandon Wu (Amerika) was die vroeë voorloper saam met Sungjae Im (Korea) op -12 nadat hulle slegs 11 putjies voltooi het.

* By die De Zalze-gholflandgoed in Stellenbosch het Suid-Afrika se George Coetzee sy Vodacom Origins of Golf-titel met welslae verdedig nadat hy met twee houe (195, -21) gewen het.

Dit was Coetzee se vyfde oorwining in die reeks nadat hy reeds 15 jaar gelede die eerste keer geseëvier het. Hy is nou tweede op die algehele lys met Jean Hugo (11 oorwinnings) wat steeds die botoon voer.

Coetzee het twee houe voor Joe Long van Engeland (197, -19) geëindig. Kyle Barker was derde (201, -15), gevolg deur Albert Venter (203) en Louis Alberts (205).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.