Brooks gooi olie op Ryderbeker-vuur

Viktor Hovland en Ludvig Åberg by die Ryderbeker. (Foto: Ryder Cup/X)

Die Amerikaanse gholfspeler Brooks Koepka lyk na ʼn baie gawe ou, maar Vrydagmiddag by die Marco Simone-buiteklub in Rome het hy dalk sy mond verbygepraat op die eerste dag van die Ryderbekertoernooi.

Europa het ʼn voorsprong met 6½-1½ geneem nadat hulle in die oggend se beurtspelle met 4-0 oorheers en die middag se vier wedstryde met 2½-1½ beklink het.

Dit was die eerste keer dat Europa skoonskip kon maak in die beurtspelle (Vrydagoggend).

Koepka, die enigste speler wat in die LIV-reeks speel wat vir die Amerikaanse Rydebekerspan gekies is, en Scottie Scheffler het Vrydagmiddag teen die passievolle Spanjaard Jon Rahm en Rasmus Hojgaard te staan gekom.

Koepka-hulle was op die 16de nog gerieflik voor voordat Rahm met twee arende op die 16de en 18de teruggeveg het om die wedstryd te halveer.

Koepka het Rahm daarvan beskuldig dat hy soos ’n kind opgetree het, sonder om daarop uit te brei.

“Maar jy weet, dit is soos dit is. Tree op soos ʼn kind. Ons is volwassenes. Ons beweeg aan,” het Koepka volgens die Golf Channel in ʼn onderhoud gesê.

Was dit suur druiwe omdat hulle nie die wedstryd kon beklink nie, of het hy iets kwytgeraak wat die passievolle Europeërs nog verder kan aanspoor?

Ja, dit is baie raar om bedeesde spelers soos Viktor Hovland en Justin Rose met soveel emosie te sien reageer wanneer hulle ʼn voëltjie of arend behaal, maar dit is waaroor die Ryderbekertoernooi gaan: passie, emosie en mededinging.

Dan het die Amerikaanse span se kaptein, Zach Johnson, gekla dat sy span en joggies onder die een of ander virus deurloop.

“Ek is dankbaar dat ons ʼn spandokter het. Daar is sekere onvoorsiene dinge, wat rêrig ongelukkig is wat ons gesondheid betref. Dit is nie ʼn verskoning nie, want ons het diepte,” het Johnson volgens die BBC bygevoeg.

In die middag se beurtspelle het Europa se Rory McIlroy en Matt Fitzpatrick die enigste oorwinning van 5 en 3 oor Collin Morikawa en Xander Schauffele behaal. Die ander drie wedstryde is almal gehalveer.

Fitzpatrick was rooiwarm en het drie voëltjies en ʼn arend oor die eerste nege putjies behaal om die oorwinning te beklink.

Om die dag mee af te sluit, het Rose ʼn voëltjie op die 18de putjie behaal terwyl die Amerikaner Max Homa nie sy voëltjieset kon inrol nie.

Rose het soos ʼn leeu gebrul en die wedstryd is gehalveer.

Uitslae op dag 1: Europa 6,2, Amerika 1,5

Vrydagoggend: Beurtspelle (Europa eerste genoem): Jon Rahm en Tyrrell Hatton klop Scottie Scheffler en Sam Burns 4 en 3; Viktor Hovland en Ludvig Aberg klop Max Homa en Brian Harman 4 en 3; Shane Lowry en Sepp Straka klop Rickie Fowler en Collin Morikawa 2 en 1; en Rory McIlroy en Tommy Fleetwood klop Xander Schauffele en Patrick Cantlay 2 en 1.

Vrydagmiddag: Viktor Hovland en Tyrrell Hatton halveer met Justin Thomas en Jordan Spieth; Jon Rahm en Nicolas Hojgaard halveer met Scottie Scheffler en Brooks Koepka; Robert MacIntyre en Justin Rose halveer met Max Homa en Wyndham Clark; Rory McIlroy en Matt Fitzpatrick klop Collin Morikawa en Xander Schauffele met 5 en 3.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.