Buhai bobaas in Australië

Die Gautenger Ashleigh Buhai het die gesogte Aussie Ope-kampioenskap ʼn tweede agtereenvolgende keer verower. (Foto: Saeed Khan/AFP)

Suid-Afrika se voorste vrouegholfspeler, Ashleigh Buhai, het haar jaar op ʼn hoogtepunt afgesluit in ʼn naelbytsege in Sydney in die Australiese Ope-kampioenskap.

Die 34-jarige Gautenger het die gesogte Aussie-titel ʼn tweede agtereenvolgende keer verower deur die plaaslike ster Minjee Lee met een hou na die kroon te steek.

Buhai het Sondag se laaste ronde in 75 houe (+3) voltooi vir ʼn totaal van 280 (-9).

Dit was goed genoeg om Lee, wat verlede naweek die Australiese PGA-kampioenskap gewen het, met ʼn enkele hou te troef.

Lee het die vierde ronde in 69 houe (-3) voltooi.

Sy het by die laaste putjie ʼn kans gehad om ʼn valbylstryd teen die Suid-Afrikaner af te dwing, maar haar sethou van sowat vier meter vir ʼn negende voëltjie van die dag het rakelings verby die blikkie geskuur.

“Ek was nie enigsins senuagtig nie en kon gelukkig kophou om die titel myne te maak,” het Buhai gesê.

“By die 17de het ek my bofhou in die water geslaan, wat die deur vir Minjee oopgemaak het.

“Die weersomstandighede was uitdagend en Minjee het waarlik ʼn puik vertoning gelewer om naby te kom, maar ek het tog gevoel ek is in beheer omdat ek vooraf ʼn reuseaanslag verwag het.

“Dit is ʼn lekker gevoel om die jaar op ʼn hoogtepunt af te sluit. Ek kan nou lekker gaan uitspan.”

Die laaste speler wat die Australiese Ope in agtereenvolgende jare kon wen, was die destydse wêreld-no. 1-speler Yani Tseng wat in 2010 en 2011 stof in almal se oë geskop het.

Buhai is meer as R3,5 miljoen ryker ná haar oorwinning en sal waarskynlik ook ʼn hele paar plekke op die wêreldranglys opskuif.

Sy het voor die Aussie-toernooi die 26ste posisie op die Rolex-ranglys beklee nadat sy in Junie, ná haar sege in die ShopRite Classic op die LPFA-reeks, tot no. 12 op die wêreldranglys geklim het.

Voor haar Shoprite-sege het Buhai ses keer onder die toptien in verskillende LPGA-toernooie geëindig, asook koning gekraai in die SA Ope in Maart op Steenberg in Tokai.

ʼn Rugbesering het Buhai egter van Augustus af vir amper twee maande op die kantlyn gehou en sy blyk nou eers weer op haar beste te wees.

Afgesien van Sondag se wentjek van meer as R3,5 miljoen, het dié Johannesburger hierdie seisoen byna R20 miljoen in die VSA gewen ondanks haar rug wat haar opgekeil het.

Die Britse Ope-kampioen van 2022 het reeds aangedui dat sy aanstaande jaar haar SA Ope-titel sal verdedig.

  • Bykomende bron: Golfweek

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.