Buhai wys haar staal in Texas

Suid-Afrika se Ashleigh Buhai. Foto: Katelyn Mulcahy/Getty Images via AFP/Argieffoto.

Suid-Afrika se Ashley Buhai het Donderdagmiddag in die eerste ronde van die Chevron-kampioenskap in Houston in Texas puik teruggeveg om haar aanspraak op die eerste major-titel van die jaar lewendig te hou.

Die heersende Britse, Australiese en SA Ope-kampioen het in winderige toestande ʼn telling van 71 houe – een hou minder as die baansyfer – op haar telkaart ingevul om die eerste dag op die The Club at Carlton Woods-baan vier houe agter die voorloper, Peiyun Chien van Taiwan, af te sluit.

Buhai het oor die eerste nege gesukkel en op +2 gedraai na ʼn wisselvallige vertoning op die setperke. Haar bofhoue was ook nie op standaard nie.

Die 33-jarige boorling van Johannesburg het egter oor die tweede nege putjies haar ritme herwin en voëltjies by die tiende, vyftiende en agttiende putjies aangeteken in ʼn terugvegpoging wat haar in die wedloop hou om Sondag haar tweede major-titel agter haar naam te skryf.

Suid-Afrika se ander deelnemer in die Chevron-uitsoekveld, Paula Reto, het Donderdag ʼn nagmerrie beleef.

Die Kanadese Ope-kampioen moes met ʼn bitter teleurstellende telling van 82 (+10) tevrede wees nadat sy van die tweede putjie af in die moeilikheid was na ʼn dubbele brouhou wat haar vroeg laat struikel het.

Die doodskoot vir Reto was ʼn liederlike 7 (+3) op die tiende putjie wat haar aanslag beëindig het.

Sy is laaste in die veld van 132 en het geen kans om Vrydagaand se afsnypunt te oorleef nie.

Verskeie groot kanonne is stewig geplaas na die eerste ronde van die jaar se eerste van vyf major-toernooie.

Die Yank Nelly Korda (68) is in die gesamentlike tweede posisie en die gewese no. 1-speler in die wêreld sal baie gelukkig wees dat sy stewig afgeskop het.

Korda se setyster was louwarm en sy het ʼn kans of twee op voëltjies verspeel. Indien haar spel op die kort grassies verbeter, sal sy die speler wees wat geklop moet word.

Die jong Thaise sensasie Atthaya Thitikul en die gerekende major-kampioene Georgia Hall van Engeland en Minjee Lee van Australië is op 70 stewig geplaas, terwyl die wêreld se huidige topspeler, Lydia Ko van Nieu-Seeland, op 71 binne trefafstand is na die eerste dag.

Nog ʼn speler wat lank die eerste posisie op die wêreldranglys beklee het, Jin Young Ko van Suid-Korea, het gelyk aan baansyfer 72 gespeel en sal geensins ongelukkig wees met haar vertoning nie.

Die speeltoestande was moeilik met dwarrelwinde wat deurentyd die balletjies van koers gedwing het en die Suid-Koreaan weet dat geduld die wagwoord is en daar nog ʼn lang pad voorlê voordat die kampioen Sondag gekroon word.

*In Kempton Park gee die Centurion-speler Jaco Ahlers die pas aan na die eerste ronde van die Sonskynreeks se Toer-kampioenskap.

Ahlers, ʼn tienmalige wenner op die Sonskynreeks, het ʼn puik telling van 66 houe – ses houe minder as die baansyfer – op sy telkaart ingevul.

Hy het ʼn foutlose dag beleef en drie voëltjies oor albei neges aangeteken.

“Ek kon nie op ʼn beter begin gehoop het nie. Die Toer-kampioenskap is ʼn titel wat ek graag wil wen en vandag [gister] was ʼn stewige afskop,” het Ahlers oor sy vertoning gesê.

Die voorloper word gejaag deur Keenan Davidse, JJ Senekal en Casey Jarvis op 67 (-5).

Jarvis het verlede week geskiedenis gemaak toe hy op Dainfern 59 houe gespeel het – saam met Peter Karmis se 59 in Swaziland die beste vertonings nog ooit in die plaaslike geldreeks. Hy is dus duidelik goed op dreef en sal dopgehou moet word.

Senekal is self goed op dreef hierdie seisoen en die Stellenbosch-ster beleef sy beste jaar nog op die gholfbaan.

Hy het vroeër vanjaar sy deurbraak-oorwinning op Zebula in die SDC Ope behaal en weet dus wat dit verg om as ʼn wenner gekroon te word.

Die voorloper op die Sonskynreeks se verdienstelys, Ockie Strydom, moes Donderdag met ʼn telling van 74 tevrede wees en sal sukkel om die voorlopers in te haal.

*In Japan in die DP World-reeks is die Suid-Afrikaner Deon Germishuys slegs twee houe agter die vroeë voorloper in die tweede ronde van die ISPS Handa-kampioenskap.

Germishuys het sy tweede ronde in 68 houe – twee houe minder as die baansyfer – voltooi en is op ʼn totaal van 132 (-8) in die gesamentlike vierde posisie op die voorlopersbord.

Die Aussie Lucas Herbert (-10) gee die vroeë pas aan.

Die veteraan Ernie Els ding ook mee in die Handa-toernooi.

Hy het Donderdag in die eerste ronde 70 houe gespeel en was Vrydag met drie putjies oor in die tweede ronde op -2 in ʼn stryd gewikkel om die afsnypunt te oorleef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.