Burmester breek trofeedroogte     

Dean Burmester. (Foto: Ben STANSALL/AFP)

Suid-Afrika se Dean Burmester het die Tenerife-ope met vyf houe gewen om sy trofeedroogte van vier jaar te breek.

Burmester het Sondag ’n foutlose ronde van 62 gespeel om op ’n totaal van 259 (-25) te eindig. Hy het in 2017 sy eerste Europese titel verower toe hy die Tshwane-ope gewen het.

“Dit was vier jaar se sukkel en harde werk,” het die 31-jarige Burmester gesê. “Ek en my joggie, Jason (Reynolds), is al vir twee jaar bymekaar. Hy het nog nooit gewen nie, dit is sy eerste een en hy verdien dit. Hy het deur dik en dun by my gestaan.”

Burmester het stof in die oë geskop van Duitsland se Nicolai von Dellingshausen met Pole se Adrian Meronk en Finland se Kalle Samooja wat gesamentlik derde was.

“Ek kan nou huis toe gaan en my familie sien; ek is so opgewonde,” het Burmester gesê. “Met Covid-19 en als het ek nie geweet wanneer ek moontlik huis toe sal kan gaan nie, so dit is baie emosioneel,” het hy aan die europeantour.com gesê.

Burmester se oorwinning volg nadat die 21-jarige Garrick Higgo verlede naweek sy tweede toernooi in die Europese reeks gewen het toe hy eerste in die Gran Canaria-ope geëindig het.

Higgo, wat in 2020 die Portugese Ope gewen het, het Sondag tydens die Tenerife-ope in die gesamentlike agtste plek geëindig na ’n ronde van 69.

Justin Harding en Louis de Jager was gesamentlik twaalfde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.