Burns aan die Brand, Branden sak uit

Branden Grace in aksie tydens die Phoenix Ope. AP Photo/Matt York

Die 24-jarige Sam Burns het die gholfbaan by die Riviera–buiteklub in Los Angeles aan die brand gespeel. Hy was een van tien spelers wat die eerste twee rondes van die Genesis-uitnodigingstoernooi in die Amerikaanse PGA-reeks in minder as 70 houe voltooi het.

Burns, wat in 2017 ʼn beroepspeler geword het, maar in 69 toernooie nog nooit aan die wenkant kon wees nie, is op 130 houe (64, 66) 12 houe onder baansyfer en ʼn allemintige vyf houe voor sy Amerikaanse landgenote Dustin Johnson, Tyler McCumber en Jason Kokrak en die Chileen Joaquin Niemann.

Van McCumber gepraat, hy het Dinsdag sy linkerhand gesny toe hy sy hotelkamer se venster oopgemaak het. Hy moes volgens die PGA se webblad Woensdag noodgedwonge die vingernael van sy linkervoorvinger laat uittrek. Hy het nietemin vyf balle gaan slaan en steeds besluit om Donderdag af te slaan.

Drie spelers is op 136, insluitende Jason Spieth, wat die afgelope drie weke in die Phoenix-ope en by Pebble Beach só naby aan twee oorwinnings gekom het, maar in die pylvak spoedbulte getref het.

Suid-Afrika se Branden Grace (140 houe) is saam 28ste ná rondes van 71 houe en 69 houe. Grace was volstoom op pad om saam met die voorlopers te eindig, maar toe teken hy vyf houe (twee meer as baansyfer) op die 16de (kort syfer 3-putjie) aan, wat sy telkaart bederf het.

Charl Schwartzel (142 houe) is saam 56ste ná rondes van 75 houe en 67 houe.

Maar Dylan Frittelli (145 houe) kon nie die afsnypunt haal nie.

Hy is darem nie alleen op moedverloor se vlakte nie, want nie Rory McIlroy, Justin Thomas of Bryson de Chambeau kon die laaste twee rondes haal nie.

* Daar is geen toernooi dié naweek in die Europese reeks nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.