Charl Schwartzel in die pylvak van 3M Ope

Charl Schwartzel. (Foto: ANA)

Die Amerikaners gee hom oënskynlik min van ʼn wenkans, maar hulle sal ʼn groot fout begaan deur Charl Schwartzel af te skryf in die 3M Ope wat by TPC Twin Cities in Minnesota beslis word.

Die 35-jarige Schwartzel is saam met die Amerikaner Tony Finau (albei 200 houe, 13 houe minder as die baansyfer) tweede ná die derde ronde agter die onbesonge Amerikaners Richy Werenski en Michael Thomson (albei 198, -15).

Werenski is slegs 248ste op die wêreldranglys en Thomson 218de.

Nog ʼn relatief onbekende Amerikaner Max Homa is vierde op 201.

Schwartzel, wat in 2011 die Meesters gewen het, was voorheen in soortgelyke posisies, maar kon ondanks sy talent, nie afrond nie.

Dalk, net dalk, is dit weer sy paadjie na roem, want sy setyster is vuurwarm en hy slaan die bal ver en reguit.

Hy het vier voëltjies en ʼn arend 3 op die negende putjie (ʼn syfer 5 van 593 treë) behaal nadat hy sy bofhou sowat 300 meter ver geslaan het en hy ʼn lang sethou van sowat 10 meter ingerol het.

Schwartzel het met nog ʼn voëltjie op die 18de afgesluit (syfer 5, 572 treë), weer na ʼn lang bofhou.

Hy het nie een sethou van binne 10 meter verbrou nie.

Van die ander Suid-Afrikaners is Dylan Frittelli 25ste op 205 nadat hy 70 houe in die derde ronde gespeel het.

Branden Grace (141) en Erik van Rooyen (145) kon nie die valbyl vryspring nie.

* In Newcastle was Justin Harding Saterdag in dieselfde posisie toe hy net een hou agter die voorloper in die laaste ronde van die Britse Meesters afgeslaan het.

Harding het saam voorgeloop nadat hy ʼn voëltjie op die derde putjie aangeteken het, maar hy het op die kort vierde putjie ʼn hou aan syfer afgestaan en die deur vir die 23-jarige Renato Paratore oopgelaat om sy voorsprong na twee houe te rek (ná ʼn voëltjie) en voort te gaan om sy tweede oorwinning in die Europese reeks te behaal.

Harding het derde geëindig op 270, een hou agter die 19-jarige Deen, Rasmus Højgaard.

Rasmus en sy identiese tweelingbroer, Nicolai, het in 2017 die Eisenhower-trofee vir amateurs vir Denemarke gewen.

Harding het byna R1,4 miljoen met sy derde plek verdien.

Voorste tellings: 266-Renato Paratore (It.) 65, 66, 66, 69; 269-Rasmus Højgaard (Dene), 66, 67, 66, 70; 270-Justin Harding (SA) 69, 63, 66, 72; 271-Robert Rock 69, 66, 67, 69; Andy Sullivan 68, 69, 67, 67; Dale Whitnell (almal Eng) 68, 64, 68, 71.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae