Charlie wil in pa Tiger se voetspore volg

Die 15-jarige Charlie Woods en sy pa, die gholflegende Tiger Woods. (Foto: Mike Ehrmann/Getty Images/AFP)

Charlie Woods gaan Donderdag in Florida probeer om in die voetspore van Tiger Woods, sy beroemde pa, te volg. Die 15-jarige spruit van die Amerikaanse gholflegende wil vir aanstaande week se PGA-toernooi, die Cognizant Classic, kwalifiseer.

Om dit reg te kry, moet Charlie op die Lost Lake-gholfbaan in Hobe Sound die eerste Cognizant- kwalifiserende toernooi oorleef. Meer as 400 spelers ding Donderdag op vier bane in Suid-Florida mee vir een van 25 plekke in aanstaande week Maandag se finale Cognizant- kwalifiserende toernooi.

Net die top vier van die veld van 144 spelers in die finale kwalifiserende toernooi sal die groen lig kry om aanstaande Donderdag in die Cognizant Classic af te slaan. Die toernooi was tot verlede jaar bekend as die Honda Classic en is een van die oudste toernooie in die PGA-reeks.

Dié toernooi ondersteun die legendariese Jack Nicklaus se liefdadigheidsorganisasie, Children’s Healthcare, en het sy ontstaan in 1972 gehad. Nicklaus is ʼn tweemalige wenner van die toernooi.

Die Cognizant- kwalifiserende toernooi sal die jong Woods se strafste uitdaging tot dusver in sy gholfloopbaan wees.

Hoewel hy al vier keer saam met sy pa in die jaarlikse PNC-toernooi in Desember (vir pa-en-seun/familielede) gespeel het, is die Cognizant-stryd ʼn individuele kompetisie en sal hy nie op sy talentvolle vader vir hulp kan steun nie.

Woods jr. het al sukses op die gholfbaan gesmaak, maar dit was in ouderdomsgroep-toernooie en ʼn skoolliga-spantoernooi.

Charlie se beste telling nóg is ʼn puik 66 (-6) op Mission Hill in Florida.

Sy poging om vir die Cognizant Classic te kwalifiseer, is ʼn reuseuitdaging en die eerste ware toets om te sien hoe ver die appel van die Woods-boom geval het.

Tiger het in 1992 as 16-jarige die eerste keer in ʼn beroepstoernooi gespeel toe hy op die Riviera-baan in die Los Angeles Ope gespeel het.

  • Bykomende inligting: PGA Tour

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.