Charlie Woods wankel in pa Tiger se voetspore

Charlie Woods, die 15-jarige spruit van die gholflegende Tiger Woods, het op die harde manier geleer dat dit nie aldag maklik is om in jou pa se voetspore te volg nie. (Foto: Cliff Hawkins/Getty Images/AFP)

Die arme Charlie Woods.

Dié 15-jarige spruit van die gholflegende Tiger Woods het Donderdag op die harde manier geleer dat dit nie aldag maklik is om in jou pa se voetspore te volg nie.

Woods jr. het op die Lost Lakes-gholfbaan in Hobe Sound in Florida probeer om vir aanstaande week se Cognizant Classic-toernooi in die Amerikaanse PGA-reeks te kwalifiseer. Hy was een van meer as 440 spelers wat op vier verskillende bane sake om 25 plekke in die stryd vir die finale kwalifiserende toernooi uitgespook het.

Charlie het egter ʼn liederlike en bitter teleurstellende telling van 86 (+16) aangeteken wat die einde van dié droom beteken het.

Die beste telling op die Lost Lakes-baan was 65 (-5).

Charlie het sleg begin en vier houe oor sy eerste vyf putjies aan syfer afgestaan. By die sewende putjie het die jong gholfspeler se deelname egter in ʼn nagmerrie ontaard deurdat hy 12 houe op dié syfervierputjie gespeel het.

Hoewel hy daarna ses syfers op ʼn streep op sy telkaart ingevul het, was ʼn gelukkige einde hom nie beskore nie. Twee verlore houe by die 14de en nog een elk by die 15de en 16de het hom verdere verleentheid besorg voordat hy die dag met twee agtereenvolgende syfers afgesluit het.

Charlie het saam met die driemalige PGA-toernooiwenner Olin Browne se seun, Olin jr., gespeel. Hy het 72 houe gespeel.

Arme jong Charlie se ganse vertoning is deur verskeie TV-spanne en tientalle gholfjoernaliste gevolg. Meer as ʼn miljoen kykers het binne ʼn uur op sosiale media na beeldmateriaal van sy aankoms by die baan gekyk.

Charlie wou agterna nie oor sy ondervinding praat nie. Pa Tiger was nêrens te bespeur nie en ma Elin moes alleen die trooswerk doen ná wat ʼn vernederende uitstappie vir Charlie moes gewees het.

Tiger was self maar 16 jaar oud toe hy as amateur in die Los Angeles Ope op die Riviera-baan in Pacific Palasades gespeel het.

  • Bykomende inligting: Golf.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Duck ·

Aanhouer wen, probeer maar weer, jy het nog baie jare voor jou…no problem

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.