Coetzee, Van Zyl is SA se pasaangeërs by Nedbank-gholf

Jaco van Zyl. Argieffoto: Michael Denker/ANA

Jaco van Zyl. Argieffoto: Michael Denker/ANA

ʼn Liederlike 2-oor op die agtste putjie het George Coetzee se momentum effens gestuit net toe dit gelyk het of hy die Gary Player-baan in die Nedbank-gholftoernooi aan’t tem was.

Coetzee was ná afloop van die eerste ronde Donderdag met sy telling van 69, 3-onder, ʼn enkele hou agter die gesamentlike voorlopers Felipe Aguilar, Ross Fisher en Jeunghun Wang – en sy landgenoot Jaco van Zyl was ná ʼn bestendige ronde ook net een hou agter.

Die 30-jarige Pretorianer, wat verlede week in die Turkse Ope vyfde geëindig het, was ná sewe putjies reeds vier onder toe hy op die 450 meter agtste putjie twee houe laat val het.

Dit is die tweede langste syfer-4 op die baan, en hy het op die 18de wéér ʼn hou, dié keer op die langste gat (459 m), prysgegee.

Tussenin was daar egter net een glips toe hy by die13de ʼn hou aan syfer afgestaan het.

Aan die pluskant was daar sy twee arende op die tweede en die 14de, en voëltjies op die vierde, vyfde en 10de.

♦   Van Zyl, wat verlede jaar tot ná die derde ronde in die wedloop vir die Nedbank-titel was, het Donderdag ook ʼn minus-3 op sy telkaart ingevul.

Hy het op die derde ʼn hou laat val, maar oor die hele ronde bestendiger as Coetzee gespeel. Hy het ook ʼn 34 oor die eerste nege aangeteken wat drie voëltjies ingesluit het. Ook oor die laaste nege het hy net een keer, by die vyfde, oor syfer gespeel en twee voëltjies het dit 35 houe en ʼn telling van 69 help maak.

Thomas Aiken (2-onder), Branden Grace (1-onder) en Louis Oosthuizen (gelyk aan baansyfer) is nog sterk in die prentjie. Só ook Retief Goosen (1-oor). Charl Schwartzel en Richard Sterne sal egter Vrydag moet sokkies optrek en begin inhaal terwyl Brandon Stone se twee neges van 38 houe elk hom nou agt houe agter die voorlopers plaas.

Henrik Stenson, 3-onder, is ses houe voor Danny Willet wat hom jaag om die voorste geldwenner op die 2016-toer te word. Dit gaan baie moeilik wees as Willet nie hier wen of ten minste naby kom nie. Hy kan nie alles vir Dubai se toernooi laat nie.

Klik hier vir die volledige tellings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.