Covid-tameletjie op die gholfbaan

Spanje se Jon Rahm. Foto: Sam Greenwood/Getty Images/AFP.

Die Covid-19-pandemie het opnuut sy kloue op die gholfbaan ingeslaan toe die Spanjaard Jon Rahm ná Saterdag se derde ronde van die Amerikaanse Memorial-toernooi wat in Ohio beslis is, in kennis gestel is dat hy positief getoets het.

Rahm sal nou tien dae lank in isolasie moet wees, maar hy behoort betyds te herstel sodat hy twee dae voordat die Amerikaanse Ope op Torrey Pines begin, weer sal kan speel.

Rahm, wat ʼn kolhou op die eerste putjie aangeteken het, was met ses houe ná die derde ronde voor en byna onstuitbaar op pad om sy titel met welslae te verdedig voordat die noodlot toegeslaan het.

Dit het die deur vir die Suid-Afrikaner Branden Grace oopgelaat om al hoe nader te kruip om die toernooi te wen, maar as hy dit regkry, sal hy die eerste een wees om te erken dat hy dit nie verdien het nie.

Rahm, wat in noue kontak met iemand was wat positief getoets het, was asimptomaties toe hy Maandag die eerste keer getoets is. Hy is die keuse gestel om hom voor die toernooi te onttrek, of om elke dag ʼn verpligte toets te ondergaan.

Die groot probleem is dat daar duisende toeskouers op die baan was en Rahm in kontak met sy joggie, medespelers en beamptes was, hoewel Covid-protokolle gevolg is.

Die twee Amerikaners Colin Morikawa (hy het in die eerste twee rondes saam met Rahm gespeel) en Patrick Cantlay (albei 204) slaan in Sondag se laaste ronde voor af. Hulle word gevolg deur nog ʼn Amerikaner, Scottie Scheffler (hy was Rahm se speelmaat in die derde ronde), en Grace (albei op 207).

Grace het rondes van 68, 72 en 67 aangeteken.

Van die ander Suid-Afrikaners het Louis Oosthuizen (216) die beste gevaar en hy is in die 22ste posisie, gevolg deur Charl Schwartzel (217) en Christiaan Bezuidenhout (218).

* Die Suid-Afrikaner Lee-Anne Pace (224) is in die 58ste posisie ná die tweede ronde van die Amerikaanse Ope vir vroue wat op die Olympic-baan in San Francisco beslis word.

Die Amerikaner Alexis Thomson (206) is twee houe voor Yuka Saso van die Filippyne (208), met Jeongeun Lee6 van Korea en Megha Ganne van Amerika saam derde op 210.

* In die suidweste van Frankryk loop Pia Babnik van Slowenië en Annabel Dimmock van Engeland (albei 209) met twee houe voor Olivia Cowan (Duitsland), Sanna Nuutinen van Finland en Felicity Johnson, ook van Engeland, ná die derde ronde van die Jabra-toernooi vir vroue.

Suid-Afrika se Caitlyn Macnab (217), Cassandra Hall, Lejan Lewthwaite (albei 221) en Monique Smit (222) het teruggesak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.