Daar is nog plek vir goeie ouens in sport

Hideki Matsuyama. Foto: Jared C. Tilton/Getty Images/AFP.

Daar is nog plek vir die goeie en stil ouens in sport.

Dit het die 29-jarige Japanner Hideki Matsuyama gewys toe hy Sondagaand (Suid-Afrikaanse tyd) die Amerikaanse Meesterstoernooi op Augusta National in Georgia met een hou gewen het.

Matsuyama het die laaste ronde in 73 houe voltooi en het op 278, tien houe onder die baansyfer, geëindig.

Die groentjie-Amerikaner Will Zalatoris (279) was tweede, gevolg deur Xander Schauffele en Jordan Spieth (albei 281) derde, met die Aussie Marc Leishman en die Spanjaard Jon Rahm op 282.

Louis Oosthuizen (289) het saam 26ste geëindig met Charl Schwartzel (289) en Christiaan Bezuidenhout (292) verder terug.

Tydens 2019 se Wêreldbeker-rugbytoernooi in Japan het Suid-Afrikaners heelwat meer van Japan, sy inwoners en gebruike geleer, onder meer oor hul hoflikheid, bekwaamheid, innemende persoonlikhede en passie om die beste vir hul land te gee.

Matsuyama is een van hulle: die ou wat heel laaste die oefenbof verlaat, nie baie oor homself praat nie en nie geraamtes in sy kas het nie.

Voor die Meesters was daar maar baie min oor hom bekend.

Baie min Japanners het eens geweet dat hy getroud is, ʼn kind het, van bofbal en wafels hou, in sy motor sit en op sy selfoon speletjies speel.

Sy onderhoude duur gewoonlik nie lank nie, want hy sê bra min.

Die Japanse media sê hulle neem soms ʼn stoel saam as hy onderhoude toestaan, want so lank kan dit dikwels neem om dinge uit hom te trek.

Hy het in 2010 reeds in die kollig as amateur begin beweeg en sedertdien 15 toernooie wêreldwyd gewen, maar ʼn Major in Amerika was hom en sy land nog nooit beskore nie.

Dis eintlik ironies, vir ʼn land wat 2 500 gholfbane het en waar die toeskouers fanaties is.

Toe Matsuyama vroeg Maandagoggend Augusta se gesogte groen baadjie aangetrek het, was sy wennerstoespraak kort en kragtig.

Hy het in Japannees gepraat, oor watter eer en voorreg dit vir hom was om te wen.

Hy is nie vloeiend in Engels nie, maar diegene wat hom ken, sê hy gesels byna nog minder in sy moedertaal, Japannees.

Volgens Matsuyama het hy in die laaste ronde die hele tyd aan sy familie en vriende gedink.

“Ek is baie bly dat ek namens hulle goed kon speel. Hopelik sal ek ʼn pionier wees en sal baie ander Japanse spelers volg. Ek is baie bly dat ek die sluise kon oopmaak,” het hy volgens die BBC gesê.

Dís waarvan helde gemaak is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.