Dis elke golfer se droom

Die Gary Player Country Club in Sun City vanuit die lug. (Foto: ANA)

Dis waarvan elke gholfspeler droom­ – om op die laaste putjie van ʼn toernooi met ʼn voëltjie af te sluit en sodoende met ses houe te wen.

Dit was die suksesverhaal van Suid-Afrika se Casandra Alexander toe sy Vrydag by Sun City die SuperSport-uitdaagtoernooi vir vroue met ses houe beklink het.

Alexander het aan die Sonskynreeks gesê sy wou nie die voëltjie-sethou op die laaste setperk van die Gary Player-baan voor al die toeskouers mis nie.

Haar oorwinning het haar seisoen op ʼn hoogtepunt laat begin ná haar 30ste plek in die Europese reeks se toernooi in Costa del Sol.

Alexander, wat in 2021 die Joburg-Ope vir vroue gewen het, het besluit om nie in die Kenia-Ope, die eerste toernooi in vanjaar se Europese reeks, te speel nie en haar eerder op die plaaslike toernooi toe te spits.

Sy het met ʼn voorsprong van vyf houe in die laaste ronde afgeslaan nadat sy 67 houe in die tweede ronde aangeteken het. Sy het die titel in die sakkie gehad nadat sy op die eerste syfer 5-putjie ʼn voëltjie behaal het.

Die Johannesburgse golfster, Casandra Alexander. (Foto: Facebook)

Sy was baie bestendig en het net twee keer houe aan baansyfer afgestaan (op die sesde en 16de putjies).

Die 23-jarige Alexander het ses houe voor Noorweë se Dorthea Forbrigd geëindig.

Forbrigd het die laaste ronde in 67 houe voltooi nadat sy ses voëltjies aangeteken het.

Sy het een hou voor Engeland se Lily May Humphreys geëindig, wat die laaste ronde in 72 houe, gelyk aan baansyfer, voltooi het.

Camile Chevalier (Frankryk) en Suid-Afrika se Cara Gorlei was saam vierde met Lee-Anne Pace, wat 73 in die laaste ronde aangeteken het, wat saam sewende geëindig het.

Maleisië se Genevieve Ling, Nicole Garcia van Suid-Afrika en Corinne Viden (Swede) het die toptien voltooi.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.