Dit reën dollars vir Grace

Suid-Afrika se Branden Grace. Foto: Vachira Vachira/NurPhoto via AFP.

Suid-Afrika se Branden Grace se LIV-verdienste vanjaar is byna $3 miljoen (R54 miljoen) meer as sy totale verdienste in sy hele loopbaan van 13 jaar.

Soos manna uit die hemel het dit dollars die naweek vir Branden Grace gereën. Agt miljoen s’n om presies te wees.

Die 34-jarige boorling van Pretoria het amptelik tweede geëindig in die LIV-gholfreeks se individuele kompetisie vir die 2022-seisoen en met dié prestasie ’n bonus van $8 miljoen (sowat R145 miljoen) ingeoes om sy verdienste die laaste vyf maande tot meer as die $15 miljoen-kerf (sowat R270 miljoen) te stoot.

Dit was so hittetitte of Grace is in die pylvak deur die Amerikaners Peter Uihlein en Patrick Reed verbygesteek.

Die Suid-Afrikaanse gholfster het Sondag in Jeddah geen punte met sy gesamentlike 28ste plek verdien nie, terwyl Uihlein 30 punte met sy tweede plek en Reed drie punte met sy gesamentlike 12de plek in die toernooi ingesamel het.

Dié drietal het gevolglik op 79 punte gelykop geëindig, maar Grace het die uittel tussen hulle gewen, met Uihlein wat Reed daarna in ’n uittel geklop het om derde te eindig en ’n bonus van $4 miljoen (sowat R72 miljoen) in sy sak te steek.

Dustin Johnson is reeds verlede naweek as die 2022-seisoen se algehele indivudele kampioen gekroon. Hy het 145 punte in die sewe toernooie ingesamel.

Grace het afgesien van sy reusebonustjek ook prysgeld van $7 684 000 (nagenoeg R140 miljoen) in die LIV-seisoen se sewe individuele toernooie sedert Junie verdien.

In sy suksesvolste seisoen in die Amerikaanse PGA-reeks het Grace maar $2 222 000 (sowat R40 miljoen) gewen. Dit was in die 2020/21-seisoen.

Grace se LIV-verdienste vanjaar is byna $3 miljoen (R54 miljoen) meer as sy totale verdienste van net meer as die $12 miljoen (sowat R216 miljoen) in sy hele loopbaan sedert einde 2009.

Dit is nie net Grace wat vanjaar miljoene der miljoene se dollar in sy sak steek nie.

Charl Schwartzel se LIV-verdienste staan op $7 135 000 (sowat R130 miljoen) en Louis Oosthuizen s’n op $4 395 000 (sowat R80 miljoen), wat in geen geselskap te versmaai is nie.

Vanjaar se LIV-reeks sluit die einde van die maand af met ’n spantoernooi waarin 12 spanne van vier spelers elk met mekaar kragte meet.

Grace, Schwartzel en Oosthuizen vorm saam met Shaun Norris die Stinger-span en hul visier sal duidelik gerig wees op die eerste prys van $16 miljoen (sowat R288 miljoen – so R72 miljoen elk).

Norris het tot dusver net meer as $1 miljoen (sowat R18 miljoen) in die LIV-reeks verdien.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.