DP-gholftoernooi: Fransman gaan nie Vrydagaand rustig slaap

Mike Lorenza-Vera in aksie gedurende ‘n vorige gholftoernooi. (Foto: Facebook)

Dis geen wonder nie dat onbesonge Fransman Mike Lorenza-Vera Vrydag die Jumeirah-gholfbaan in Doebai met ‘n stroewe gesig verlaat het.

Eintlik moes hy van oor geglimlag het, maar die senuwees het erg begin knaag, veral toe hy op die 18de putjie van sy tweede rondte van die DB-wêreldtoernooi ‘n hou aan syfer afgestaan het. Nietemin het hy aan sy voorsprong geklou  ná die tweede ronde met Europa se beste spelers wat hom jaag.

Hy is op 132 houe, 12 onder die baansyfer en drie houe voor die Engelsman Tommy Fleetwood (wat Sondag die Nedbank-uitdaagtoernooi by Sun City gewen het) en John Rahm (Spanje), gevolg deur Tom Lewis van Engeland (137) en Suid-Afrika se Christiaan Bezuidenhout (138).

Louis Oosthuizen, ná sy teleurstelling in die laaste ronde van die Nedbank-uitdaagtoernooi, is steeds binne trefstand op 140, met Erik van Rooyen en Richard Sterne albei op 143.

Nadat die Fransman 63 houe in Donderdag se eerste ronde aangeteken het, het hy dit Vrydag met 69 houe, 3 houe onder baansyfer, opgevolg.

Sy rondte het ses voëltjies ingesluit, maar hy moes ook houe aan baansyfer op die 5de, 15de en 18de putjies afstaan.

Lorenze-Vera se 132 (-12) is die laagste telling nog ná 36 putjies en wat belangrik is, is dat die toernooi nog elke keer gewen is deur ‘n speler wat halfpad met een of meer houe voorgeloop het.

Maar wat teen die Fransman tel, is dat hy vantevore vyf keer ná 36 putjies voor was, maar dit nie kon volhou nie.

Lorenza-Vera se beste vertonings sedert 2005 was nege tweede plekke en vier derde plekke.

Boonop kon die 34-jarige Fransman, wat reeds in 2005 ‘n beroepspeler geword het, nog nooit in 193 toernooie seëvier nie.

Hy het Sondag slegs in die gesamentlike 52ste posisie geëindig in die Nedbank-toernooi en die vorige week,  in die HSBC-toernooi, slegs 38ste.

Hy het tot dusver R70 248 260 in sy loopbaan (4 317 352 Euro’s) verdien, maar as hy Sondag daarin kan slaag om enduit voor te bly, kan hy die wennerstjek van R23 541 931 (2 miljoen Euro’s) in sy sak steek.

Wat die Wedloop na Dubai aanbetref (dit vind jaarliks oor 47 toernooie in 31 lande en vier kontinente plaas) om Europa se beste speler ná dié toernooi te kroon, loop Fleetwood ( 4 079 punte) voor, gevolg deur Rahm (3 898), Shane Lowry van Ierland (3 613) en Matthew Fitzpatrick (3 320).

Oosthuizen  is negende en Erik van Rooyen 10de.

Wat hier op die spel is, is die Harry Vardon-trofee en ‘n alllemintige bonuspryspot van R81,12 miljoen (5 miljoen Euro) wat tussen die spelers verdeel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.