Drie arende – en Grace is gesamentlik voor

Branden Grace – SA se voorste ná eerste ronde (Foto: Facebook)

Branden Grace het sy wisselvallige dog produktiewe eerste nege putjies in die eerste ronde van die SA Ope-gholftoernooi op Glendower Vrydag met ʼn bestendige tweede nege opgevolg.

Hy het drie arende, almal by syfervyf putjies, aangeteken en is met 65 saam met Chase Koepka die voorloper na die eerste ronde en nou selfs ʼn groter gunsteling om die titel te wen.

Koepka, jonger broer van die major-wenner Brooks, was vroeg-vroeg die voorloper in die klubhuis. Dit was ʼn verrassing, want die 23-jarige, onbekend in die belangrike gholfreekse, het pas maar gekwalifiseer om in 2018 in die Europese reeks te speel.

Koepka het, soos Branden Grace, ook 32 houe oor die eerste nege gespeel, maar het net een hou aan syfer afgestaan en drie voëltjies en ʼn arend behaal, teenoor Grace se twee arende, twee voëltjies en twee brouhoue by die derde en die sewende.

Oor die tweede nege het Grace egter meer bestendig gespeel, sy derde arend en ʼn voëltjie aangeteken en 33 aangeteken vir sy 65.

Koepka het oor die tweede nege ook bestendig gespeel en vier voëltjies en een brouhou vir 33 op sy kaart ingevul.

Dit is egter, gesien Koepka se gebrek aan ervaring, onwaarskynlik dat hy vorentoe in die toernooi ʼn bedreiging sal wees – maar ʼn belowende toekoms lê ongetwyfeld vir hom en wink.

Suid-Afrika se ander vernaamste hoop benewens Grace, Charl Schwartzel, het die toernooi goed begin. Hy is op drie oor ná die eerste ronde nadat hy op die eerste en die syfer vyfde agt houe afgestaan het en toe oor die tweede nege vyf voëltjies en ʼn brouhou vir 32 ingevul het.

Schwartzel se mede-major-wenner Retief Goosen het ook drie onder aangeteken, terwyl Ernie Els, wat erken hy was effens verroes, een minder as syfer gespeel het. Die Kanadese major-wenner Mike Weir was na 73 houe in die klubhuis – en Trevor Immelman, wat saam met die twee gespeel het, het weer teleurgestel en is met sy 79 gesamentlik vyfde laaste.

Vir volledige tellings en ontledings, klik op die skakel 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yankee ·

Al wat ek sal se. N swak veld wat hier speel. Meeste van hierdie spelers al jare oor die wal, en die jonges, nererns onder enige ranglys. Regtig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.