Drie van SA tegelyk tweede by Nedbank-gholftoernooi

Louis Oosthuizen. Argieffoto: AP Photo/Jae C. Hong

Louis Oosthuizen. Argieffoto: AP Photo/Jae C. Hong

Suid-Afrika se vlag wapper na Vrydag se tweede ronde nog hoog by die Nedbank-gholftoernooi op die Gary Player-baan by Sun City.

Drie Suid-Afrikaanse spelers is nou gelyk tweede, net twee houe agter die voorloper, Alex Noren van Swede, wat op 136 houe, agt onder syfer is na sy 69 in die tweede ronde.

Louis Oosthuizen het Vrydag, met sy ronde van ses houe onder syfer, die beste ronde van die dag gespeel. Hy het geen houe afgestaan nie en ses voëltjies behaal, sodat hy nou, na sy eerste ronde van 72 op 138, ses houe onder baansyfer is.

George Coetzee het sy goeie spel van Donderdag voortgesit deur sy rondetelling van 69 te herhaal. Hy het net een hou, op die agste putjie, afgestaan, maar vier voëltjies het meer as daarvoor vergoed. Hy het nou ook na 36 putjies ʼn telling van 138, wat ses-onder vir die toernooi is.

Jaco van Zyl is ook gelyk tweede, nadat ook hý ʼn tweede keer 69 aangeteken het. Hy het een hou op die vyfde putjie laat val, maar met vier voëltjies vergoed.

Branden Grace, ook van Suid-Afrika, het so stil-stil op vier houe agter die voorloper klaargemaak en is op 140 ook nog in die wedloop vir die titel. Thomas Aiken het bestendig gespeel oor die eerste nege, maar toe erg kleigetrap oor die laaste nege, deur vyf houe af te staan, waarvan een ʼn dubbele brouhou op die 18de putjie was.

Sy telling van 74 en Retief Goosen se 71 plaas hulle, na die twee rondes, gelyk aan baansyfer op 144, saam met Richard Sterne, wie se 70 na ʼn 74 sy telling darem meer aansien gee.

Charl Schwartzel (76 na Donderdag se 74) staan op ʼn swak 150 na twee rondes en Brandon Stone het sy tweede 76 gespeel en is in die vyfde laaste plek.

♦  Na 35 jaar van die toernooi op Sun City is die eerste volmaakte gelukhou in hierdie ronde geslaan. Fabrizio Zanotti het dit by die vierde putjie reggekry. Hy is ook saam tweede op ses houe beter as syfer.

♦  Lasse Jensen het ʼn merkwaardige albatros op die 14de putjie behaal, toe hy net twee houe op die syfer-5 nodig gehad het. In die eerste ronde moes hy sewe houe op dieselfde putjie speel.

Klik hier vir die volledige tellings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.