Driedubbele vreugde vir Burmester

Dean Burmester spog met die trofee by die Joburg-Ope. (Foto: Joburg Open/X)

Suid-Afrika se Dean Burmester het nie net sy derde oorwinning in die DP World Tour behaal toe hy Sondag op die Houghton-baan die Joburg-Ope gewen het nie, maar ook sy bankbalans met sowat R3,7 miljoen laat bult en boonop seker gemaak dat hy in aanstaande jaar se Britse Ope op Royal Troon sal speel.

Burmester, wat in Zimbabwe gebore is maar op Grey Kollege in Bloemfontein op skool was en ʼn lid van die Bloemfontein-klub is, het laas in 2021 in die Britse Ope gespeel en toe 11de geëindig.

Burmester, een van die vier Suid-Afrikaners wat vir die Stinger-span in die LIV-reeks speel, het met ʼn foutlose 64 houe in die laaste ronde van die Joburg-Ope op 262 houe (-18) geëindig om sy landgenoot Darren Fichardt (265, -15) met drie houe uit te stof.

Die Engelsman Dan Bradbury was derde op 267 (-13).

Fichardt en Bradbury sal saam met Burmester in die Britse Ope speel.

Fichardt, wat onlangs sy spelersregte vir die DP World Tour by die kwalifiseringskool behou het, sal die sewende keer in die Britse Ope speel sedert hy laas in 2017 saam met die beste spelers in die wêreld skouers geskuur het.

Suid-Afrika se Jacques Kruyswijk, wat Sondag 69 houe in die laaste ronde aangeteken het, was saam met Zander Lombard vierde op 268 (-12) met die onbesonge Nikhil Rama, wat maar 1 215de op die gholfranglys is, sesde op 269 (-11).

Thriston Lawrence, wat ná die derde ronde met drie houe die voorloper was, het 75 houe in die laaste ronde aangeteken en saam met Gavin Green van Maleisië op 270 (-10) klaargemaak.

* In Brisbane het Min-Woo Lee van Australië sy derde titel in die DP World Tour-reeks gewen toe hy die Australiese PGA-kampioenskap ʼn tweede keer gewen het.

Die 25-jarige Lee (264, -20) het Rikuya Hoshino van Japan (267, -17) met drie houe geklop.

Die Aussie Marc Leishman was derde op 268 (-16), gevolg deur sy landgenoot Curtis Luck op 269 (-15) en Joaquin Niemann van Chili op 271 (-13).

Lee trap nou in die voetspore van Nathan Holman (2016), Cam Smith (2018, 2019 en 2022) en Adam Scott (2019) as die vierde wenner van die Australiese PGA sedert dit deel van die DP World Tour-reeks geword het.

* In Spanje se Andalusiese Ope vir vroue het Aditi Ashok van Indië in die laaste ronde met 66 houe na vore geskiet om Anne van Dam (Nederland) met twee houe te klop.

Ashok het met 271 houe (-17) geëindig en Van Dam op 273 (-15).

Dit was Ashok se tweede titel in die Europese reeks nadat sy vanjaar in die openingstoernooi in Kenia ook die wenner was.

Ashok en Van Dam is gevolg deur Ana Pelaez van Spanje op 274, (-13) en Linn Grant (Swede) en Kirsten Rudgeley (Australië), wat saam op 276 (-12) klaargemaak het.

Suid-Afrika se Lee-Anne Pace het 71 houe in die laaste ronde aangeteken en op 282 (-6) saam 15de geëindig.

  • Bronne: European Tour en BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.