Du Plessis ken Pecanwood soos palm van sy hand

(Foto: My Golf Life/Facebook)

Die Suid-Afrikaner Hennie du Plessis, wat skaars ʼn minuut van die eerste bof af op die Pecanwood-landgoed by Hartbeespoortdam bly, het sy kennis van plaaslike toestande baie goed ingespan toe hy die voortou ná die eerste twee rondes van die MyGolfLife-ope geneem het.

Du Plessis, die plaaslike gunsteling wat 62 houe in die eerste ronde in dié toernooi in die Sonskynreeks en DP World Tour to Dubai aangeteken het, het dit Vrydag met 67 houe in die tweede ronde opgevolg om op 127 houe, 17 houe onder die baansyfer, te eindig.

Die twee Spanjaarde, Pablo Larrazabal en Ignacio Elvira, asook die Suid-Afrikaner Tristen Strydom is op 128 (-16) net een hou agter Du Plessis saam tweede.

Die veteraan Richard Sterne is in die vyfde posisie op 129 (-15).

* Die organiseerders van die geldryke Spelerskampioenskap wat op TPC Sawgrass in Florida in Amerika gespeel word, het besluit om die toernooi eers Maandag af te handel nadat swaar reën spel op die tweede dag skuins voor 15:00 ook ontwrig het en dit toe afgelas is.

Spel is reeds in Donderdag se eerste ronde van dié glansryke toernooi in die Amerikaanse PGA-reeks (prysgeld van bykans R320 miljoen) ontwrig nadat meer as 70 mm reën op die baan uitgesak het wat dit haas onspeelbaar gemaak het. Boonop word nog reën en storms voorspel.

Engeland se Tommy Fleetwood en die Amerikaner Tom Hoge was die voorlopers op ses houe onder die baansyfer, hoewel 47 spelers nog hul rondes moes voltooi het.

* Die Deen Nanna Koerstz Madsen loop in Thailand met een hou voor ná die tweede ronde van die Honda Classic LPGA-toernooi vir vroue wat by die Siam-buiteklub gespeel word.

Madsen het die eerste twee rondes in 129 houe (-17) voltooi en is een hou voor Nasa Hataoka van Japan (128), gevolg deur Celine Boutier (Frankryk) op 129.

Suid-Afrika se Ashleigh Buhai het op 147 in die 65ste posisie geëindig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.