Dubbele Doebai-triomf vir Spanje se Rahm

Argieffoto van Jon Rahm tydens ‘n vorige toernooi. (Foto: Facebook)

Wanneer die gordyn oor ʼn paar dekades oor die jong Spaanse gholfspeler Jon Rahm se loopbaan sak, sal hy met groot genot na die DP-wêreldtoernooi in Doebai kan terugkyk.

Rahm het Sondag die heel lonendste toernooi in die Europese reeks op die Jumeirah-baan met een hou gewen en op die koop toe ook die reuseboerpot in die Wedloop na Doebai (Europa se beste speler oor 48 toernooie) by sy bankrekening gevoeg.

Die 25-jarige Rahm was in 2015 die wêreld se beste amateur voordat hy in 2016 ʼn beroepspeler geword het. Hy het reeds ses oorwinnings in die Europese reeks behaal en was ook suksesvol vanjaar in die Amerikaanse PGA.

Hy het Sondag se vierde en laaste ronde in 68 houe voltooi en het op 269 houe geëindig, 19 houe onder die baansyfer.

Hy het een hou voor Tommy Fleetwood van Engeland (wat verlede week die Nedbank-uitdaagtoernooi by Sun City gewen het) geëindig met die Fransman Mike Lorenzo-Vera ʼn verdere hou terug op 271.

Suid-Afrika se Christiaan Bezuidenhout (281) was saam 12de, met Louis Oosthuizen en Richard Sterne (albei 285) saam 20ste, gevolg deur Erik van Rooyen (286) en Justin Harding (287).

Bezuidenhout het steeds R1,4 miljoen verdien en Oosthuizen en Sterne albei R870 978.

Waar Rahm van oor tot oor glimlag, veral oor sy skitterhou vanuit die sandkuil op die 18de putjie wat tot ʼn voëltjie gelei en die oorwinning verseker het, sal Lorenzo-Vera nagmerries oor dié putjie hê.

Dié Fransman, wat vir drie rondes in die pylvak was, het in die tweede en derde ronde ʼn hou aan syfer op die laaste putjie (syfer 5) afgestaan, maar Sondag vir ʼn arend geset – wat tot ʼn uitspeelstryd sou lei.

Maar dié keer was sy setwerk swak en het hy gelyk aan syfer gespeel nadat hy ook nie met sy voëltjie-sethou kon slaag nie.

Om Rahm se vreugde in perspektief te stel: sy prysgeld vir sy oorwinning was ʼn ongelooflike  R44 007 588. Dit beteken dat hy met elkeen van sy 269 houe wat hy oor die afgelope vier dae gespeel het, R163 596 verdien het.

Sal iemand hom kwalik neem as hy nog enetjie met eish skink, veral met die boerpot van ʼn verdere R81 112 339?

Boonop is sy naam saam met dié van ander Spaanse legendes soos Seve Ballesteros op die Harry Vardon-trofee verewig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.