Els terug op wenpad

Ernie Els. Foto: (AP Photo/Amr Nabil)

Ernie Els het Sondag die Hoag Classic-toernooi in Newport Beach, Kalifornië, gewen.

Dit was net sy derde toernooi in die PGA-reeks vir seniors en Els (50) het met twee houe gewen.

“Dit was ʼn redelike taai stryd,” het Els gesê.

“Ek het bietjie ongemaklik gevoel op die setperke. Ek het nie daai vryvloeiende gevoel gehad nie en ek moes hard werk daarvoor. Dit is ʼn goeie ding om hard te werk vir iets, want jy wil nie hê dit moet net in jou skoot val nie.”

Els moes tydens voorverlede maand se Mitsibushi-kampioenskapsbyeenkoms in Hawaii met die tweede plek tevrede wees nadat hy tydens ʼn uitspeelstryd deur die Spanjaard Miguel Jiménez geklop is.

En tydens verlede week se Cologuard Classic-toernooi in Arizona moes hy met die 34ste plek tevrede wees.

“Na die uitspeelstryd in Hawaii wat ek so naby aan wen was, wou ek nie ʼn gemors hiervan maak nie,” het Els gesê. “Ek het ʼn wonderlike geleentheid gehad en ek wou dit aangryp.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.